
Die eerste week van die Noordwes Premierliga Klubkrieketseisoen het vir groot opwinding sowel as verrassende uitslae gesorg.
Ibbies klop vir Potch Dorp met 9 paaltjies nadat Dorp vir ‘n skamele 39 op die Ibbies Oval uitgeboul is.
Tylin Clark neem 5/11 vir Ibbies met Edumisa Dlulemnyango wat ook 3/17 inpalm om Dorp se kolwers met die stert tussen die bene van die veld te stuur.
Potch Dorp se taak raak nie makliker nie, aangesien hulle komende wedstryd hierdie Saterdag, 14 Oktober ‘n derbystryd teen die NWU se eerste span op die Witrand Oval is.
Dorp sal op hulle tuisveld beslis ‘n beter vertoning wil lewer en sal vinnig van hul nederlaag teen Ibbies moet vergeet.
NWU I het die verdediging van hul titel as kampioene op ‘n goeie noot begin toe hul Taurus met 144 lopies op die NWU Oval geklop het.
Conrad van Dyk (6/27) was kookwater vir die NWU en was een van die groot redes vir sy span se oorwinning. Taurus is vir slegs 138 uitgeboul. Vroeër het die NWU 282/8 opgestel met SW Kemp se 111 (125) wat uitgestaan het.
Impala begin ook hul seisoen met ‘n 5-paaltjie oorwinning teen Travelling Reefs.
Bepalings (Saterdag, 14 Oktober) – Alle wedstryde begin 10:00.
Ibbies teen Travelling Reefs I (NWU Oval)
Potch Dorp I teen NWU I (Witrand Oval)
Taurus teen Ikageng I (Ibbies Oval)