Sport was nog altyd een van Potchefstroom Gimnasium se sterkpunte. Vanjaar is dit met statistiek bewys nadat hul as die beste sportskool vir seuns in Noordwes volgens SA Skolesport se 2023 ranglys vir die top sportskole vir seuns, aangewys is. Gimmies beklee die 61ste plek nasionaal op hierdie ranglys, wat skole soos Hilton College, Paul Roos Gimnasium, Affies, Hoërskool Garsfontein en KES, onder andere insluit.
Gimmies beklee ook die 25ste plek op die ranglys as ‘n mens net Afrikaanse skole in ag neem.
Volgens die sportdirekteur by Potchefstroom Gimnasium, Jacques Botes, is die hierdie posisie wat Gimmies beklee beduidend dat die skool se sport op ‘n gesonde vlak is, maar dat daar altyd ruimte vir verdere verbetering is.
“Ons het fantastiese afrigters en organiseerders wat ons leerders help om ten volle te ontwikkel in hul sportsoort. Vir ons gaan dit nie net oor prestasie nie, maar ook om kinders die geleentheid te gee om aan ‘n verskeidenheid sport deel te neem. Sport help om karakter te ontwikkel en het ‘n baie positiewe effek op die leerders,” noem Botes.

SA Skolesport het hierdie statistiek-gedrewe ranglys verlede week bekendgestel. Dit was glad nie ‘n maklike taak nie, aangesien die kriteria ook spesifiek krieket, rugby en hokkie omarm het. Atletiek was glad nie in ag geneem in die bepaling van hierdie ranglys nie. Volgens SA Skolesport is daar ‘n streng ontleding en ‘n genuanseerde ranglysmetodologie op ses prominente sportkodes toegepas, naamlik, krieket, sokker, rugby, hokkie, basketbal en waterpolo. Daar was ‘n deeglike evaluering van elke skool se prestasie op eerste span vlak. Daar is ook ‘n doelbewuste gewigstelsel geïmplementeer om ‘n regverdige voorstelling van elke skool se algehele atletiese vaardigheid te verseker.
Rugby, wat erken word as die gewildste en mees gespeelde seunskoolsport, het ‘n dubbele gewig op die ranglys gekry. ‘n 1.5 gewig is vir krieket, hokkie en sokker gegee, terwyl waterpolo en basketbal ‘n gewig van 1 gedra het.

Volgens SA Skolesport is atletiek, tennis en roei, uitgesluit weens die afwesigheid van gevestigde maatstawwe vir evaluering. Faktore soos die kwaliteit van fasiliteite, afrigtingskundigheid en provinsiale verteenwoordiging is ook nie eksplisiet in hierdie ranglys in ag geneem nie. Tog poog hierdie ranglys om ‘n algehele prent te skets van die kwaliteit sportgeleenthede wat ‘n skool bied.
“Die samestelling van hierdie lys is met die grootste erns onderneem, met die klem op ons verbintenis om ‘n betroubare gids vir ouers, studente en sportentoesiaste te verskaf,” lui ‘n verklaring op die SA Skolesport webstuiste.
Botes noem dat hy sukses aan vele faktore kan toeskryf. Hy meen dat ouerbetrokkenheid en die inkoop van afrigters in dit wat Gimmies wil bereik verder ‘n belangrike rol in die sukses op die sportvelde speel. “Die ouers soek net die beste vir hul kinders en is daar om hulle kinders deurlopend te ondersteun. Ons het vanjaar teen ‘n paar makroskole gekompeteer en al was die resultate nie altyd aan ons kant nie, is dit goed om jouself teen top skole te meet.”
Botes voer ook aan dat Gimmies ‘n paar doelwitte het om in 2024 nog verdere sportsukses op nasionale vlak te behaal.
“Ons wil graag by die NWU Prestige Sportreeks ‘n top 3 plek behaal en ook in atletiek in die A-bond bly by die 2024 Super Interhoër. Ons sien ook uit na die wintersportseisoen waar ons rugbyspanne na ‘n hoër afdeling opgeskuif het. Dit gaan beslis ‘n besige en opwindende jaar wees.”



