Die jaarlikse FNB Classic Clash tussen Volkies en Gimmies het die afgelope naweek sy klimaks op die Piet Malan rugbyveld bereik.
Nadat Volkies die netbalwedstryd en Gimmies albei hokkie-wedstryde gewen het, was dit nog net die manne wat dinge op rugbyveld moes uitspook.
Volkies is uit meeste oorde as die gunsteling vir dié wedstryd bestempel. Tog het Regardt Kleingeld, Direkteur van Rugby by Gimmies, se troepe ander planne gehad. Gimmies is vir die derde agtereenvolgende jaar as die prinse van Potch gekroon. Nadat hulle met besonderse verdediging hul eweknieë met 21-12 geklop het.
Alhoewel die toeskouers kon sien dat Gimmies se verdediging besonders goed was, wys die statistieke onomwonde wie het die verdedigingstryd gewen. Volkies het 11 keer in Gimmies se kwartgebied gaan kuier, maar kon slegs twee keer punte aanteken. Dit teenoor Gimmies se vyf besoeke na hulle opponente se kwartgebied, en drie keer van punte aanteken. Volkies sal nabetragting doen en kyk hoe hulle soveel kanse verbrou het.
Dinge het goed begin vir Volkies waar hulle verdediging in aanval verander het met ‘n goeie onderskep drie. Dit het vir almal gelyk of dit vir die blou troepe ‘n lang dag op kantoor gaan wees. Volkies het ‘n geelkaart gekry vir ‘n gevaarlike duikslag, iets wat Gimmies goed uitgebuit het. In die tydperk wat Volkies een minder speler op die veld was, het Gimmies 14 punte aangeteken. Met die halftyd telling 14-7 kon die wedstryd nog enige kant toe gaan.

Gimmies het die oorhand gehad in die vaste fasette, wat vir hulle ‘n goeie platform geskep het om van aan te val. Volkies het nie bes gegee nie en met besonderse kreatiwiteit het die span se blitsige vleuel, Lethabo Riet, ‘n pragskop deurgesit wat buitesenter, Hennie Pretorius gebruik het om agter die pale te gaan kuier en die telling 14-12 te maak.
Volkies het aanhou probeer om in die laaste minute die deur na die doellyn te probeer afbreek. Gimmies op hul beurt het nie ‘n enkele meter verniet weggegee nie. Met 10 minute oor in die wedstryd loods Gimmies ‘n teenaanval na ‘n skop van Volkies af om weer onder die pale te gaan druk. Dit was die laaste sê in die wedstryd en Gimmies wen 21-12.
Volgens Mighael de Beer, hoofafrigter van Volkies, is ‘n ‘clash’ die perfekte gelykmaker.
“Ons het vier geleenthede gehad, wat ons nie in punte kon omskep nie. Dinge het net nie na ons kant toe gegaan nie. Ek wil vir Gimmies gelukwens, hulle was beter as ons op die dag. Van hier af moet ons hard werk en dinge regkry, daar is nie tyd vir wegkruip nie. Ons speel komende naweek teen Merensky,” het De Beer gesê.
Regardt Kleingeld het die dag opgesom deur na die span se slagspreuk vir die jaar te verwys.

“We not me, ons was die buiteperde, almal het dit geweet. Ons was aan verkeerde kant van die statistieke, die voorspellings en die minste provinsiale spelers. Ons het gebly by ons DNS as span. Ons het ‘n plan gehad vir Volkies en die spelers het dit baie goed uitgevoer. Ek moet vir hulle krediet gee vir dit. Ek het gesê die span wat kop hou en hul kanse vat gaan die wedstryd wen en ek wil lof gee aan my leierskap groep in die span en die spelers wat hulle ondersteun het. Dit is altyd lekker om jou clash te wen, maar ons weet dat daar nog harde werk is vir die res van die kompetisie, so ons het dit geniet, maar dit is verby en nou begin die voorbereiding vir die volgende wedstryde. Baie dankie aan die Gimmie gemeenskap se ondersteuning en al die ander spanne wat die dag suksesvol gemaak het.”




