Noordwes voëlkenners wys veerkragte
Vyf van hul spanne het deelgeneem in die gewilde 50 km Radius-kategorie.
BirdLife South Africa se gewilde Birding Big Day (BBD) 2025 het 6 Desember plaasgevind, ‘n dag waarop voëlkykers landswyd saamspan om soveel moontlik spesies in 24 uur waar te neem.
Vanjaar se byeenkoms het alle verwagtinge oortref met meer as 500 spanne landwyd en ’n totaal van 670 spesies wat aangemeld is. Die BirdLasser-platform, wat die dag se waarnemings versamel en verwerk, het uiteindelik ’n indrukwekkende 62 406 inskrywings aangeteken.
Hierdie groeiende databasis ondersteun die land se wetenskaplike pogings om voëlbevolkings te monitor en langtermynbewaringsplanne te versterk. Die Noordwes het vanjaar met 35 spanne deelgeneem en ’n merkwaardige 350 spesies is binne die provinsie opgemerk. Potchefstroom se eie BirdLife Wesvaal-klub was weer ’n kernrolspeler.
Vyf van hul spanne het deelgeneem in die gewilde 50 km Radius-kategorie, waarin deelnemers enige gebied binne ’n 50 kmsirkel mag besoek en outomaties deel vorm van die provinsiale uitdaging. Spanuitslae bevestig Wesvaal se entoesiasme. Die plaaslike trots het duidelik deurgeskyn met uitstekende resultate:
- Wacky Waxbills – 250 spesies (1ste in Noordwes)
- Huismossies – 154 spesies
- Bontrokkies – 141 spesies
- Koepelkakelaars – 132 spesies
- Hartbeesfontein Swifts – 118 spesies
Hierdie uitslae beklemtoon hoe uiteenlopend en produktief die omgewing vir voëlkyk is. Verskeie skaars of moeilikom-te-kry spesies het die dag verder opgekikker.
Onder die hoogtepunte tel:
- Oopbekooievaar (African Openbill)
- Draaihals (Red-throated Wryneck)
- Oranjekeelkalkoentjie se jongeling (Cape Longclaw)
- Bosveldvisvanger (Woodlands Kingfisher)
- Swartsperwer (Black Sparrowhawk)
- Grootheuningwyser se jongeling (Greater Honeyguide)
Vir baie spanne was hierdie waarnemings die “guldetoeval” wat hul lyste afgerond het. Hoewel Birding Big Day beslis ruimte bied vir vriendelike mededinging, bly dit bowenal ’n viering van voëlkykers se liefde vir die natuur se biodiversiteit. Van gesoute voëlentoesiaste tot nuwelinge wat hul eerste Big Day aanpak, het almal saam ’n bydrae gelewer tot ’n waardevolle stel data wat die land se biodiversiteitsnavorsing ondersteun.





