SportSport

Gimmies begin Schools SA20-toernooi met twee seges

Gimmies het gister (Vrydag, 16 Januarie) hulle spiere gebult en beide Trio (met 5 paaltjies) en St. Patrick's CBC College (79 lopies) gemaklik geklop. 

Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan was kookwater tydens hulle eerste twee poelwedstryde van die 2026 Schools SA20-toernooi se Sentrale Fase in Potchefstroom.

Die wenner van hierdie toernooi sal na die nasionale finaal van hierdie gesogte T20-kompetisie deelneem. Gimmies het gister (Vrydag, 16 Januarie) hulle spiere gebult en beide Trio (met 5 paaltjies) en St. Patrick’s CBC College (79 lopies) gemaklik geklop.

Puik boulwerk teen Trio op die NWU Oval was die hoofrede vir Gimmies se 5-paaltjie oorwinning. Damian Kruger (4/11), Ruhann Steenkamp (2/22) en Thloni Thabatha (2/26) het die seuns van Kroonstad laat bontstaan. Op ‘n stadium was Trio op 8/5, maar hul laerorde het veggees gewys en is toe vir 82 in 18.5 boulbeurte uitgeboul. Iwan du Plessis se 25 en stertkolwer, Zothile Zwane (11*) het die telkaart bietjie beter laat lyk.

Foto’s: Wouter Pienaar

Gimmies se kolwers het ook nie te goed begin nie. Christivan Coetzer is met die eerste bal uitgeboul. Gimmies het steeds paaltjies verloor en op 41/4 moes iemand anker inslaan. Bennet Keet (20 van 19 balle) en Henré Cronjé (19 van 18 balle) staan onoorwonne om Gimmies die sege te gee.

Gimmies wen hul tweede wedstryd oortuigend met 79 lopies teen St. Patrick’s van Kimberley. Hier wys Gimmies hul kolfkrag met Lukas Kotze wat ‘n puik 56 (32 balle) moker. Kotze het sy vyftigtal met ‘n reuse ses behaal wat tot op die dak van die hoofpawiljoen van die NWU Oval geland het. Ulrich Botha met 45 (38 balle) het hom goed bygestaan in Gimmies se groottotaal van 165/5 in 20 boulbeurte.

St. Patrick’s het nie veel met die kolf gebied nie en maak 86/8 in 20 boulbeurte. Thabatha (3/12) skitter weer vir Gimmies in ‘n konsekwente boulaanval.

Gimmies se groot toets sal vandag (17 Januarie) om 09:30 teen St. Andrews van Bloemfontein op die Ibbies-Oval wees. Saints het ook hul wedstryde gemaklik gewen en die kanse is groot dat hierdie twee spanne mekaar ook in die finaal sal aanvat.

Die half-eindstryde vind om 14:00 op die NWU en Ibbies-Ovals plaas. Die wedstryde kan ook op die SuperSport Schools webtuiste gestroom word.

Vinnige feite:

  • Die Proteas snelbouler, Gerald Coetzee is ‘n voormalige St. Andrews-leerder.
  • Die Engelse kolwer, Joe Root het in 2009 as ‘n jong 18-jarige vir St. Andrews in Suid-Afrika gespeel as deel van ‘n uitruilprogram met Yorkshire.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button