Potchefstroom Gimnasium se o15A-krieketspan maak groot spronge om vir die Finsbury A-liga te kwalifiseer.
Hierdie jong span speel top krieket vanjaar met oortuigende oorwinnings oor Montana (8 paaltjies), Nelspruit (177 lopies) en Hans Moore (7 paaltjies). Dit is veral Gimmies se boulers wat die momentum gee. Christiaan du Plessis met 6 paaltjies teen Hans Moore, sowel as goeie boulwerk van Marno Hattingh, Adriaan Kruger en Victor Scheepers wat deurslaggewend is.
Volgens Gimmies se direkteur van krieket, Jandré Jacobs, is die uitslae ’n bewys van die skool se doelwit om vir die Finsbury A-liga te kwalifiseer.
“Dit is ’n groot doelwit vir Gimmies-krieket om na die Finsbury A-liga op te skuif. Dit is iets wat ek reeds verlede jaar genoem het toe ek gevra is wat my doelwitte as nuwe krieketdirekteur is,” het Jacobs gesê.

Gimmies se o/15A span is tans gelyk eerste op die punteleer saam met Midstream College op 15 punte elk.
Die eerste span lê vierde met nege punte, net een punt agter die topdrie. Vir ‘n skool om na die volgende vlak te skuif word albei die eerste span en o15’s se punte gesamentlik gevoeg.
Met twee deurslaggewende wedstryde wat teen Hoërskool Marais Viljoen van Alberton en Midstream College voorlê, moet beide spanne hul volgende wedstryde wen om ’n uitspeelwedstryd vir die laaste plek in die A-liga te verseker.
“Soos dinge tans staan, wag daar op 14 Februarie ’n moontlike “finaal” teen Midstream, waar beide die eerste span en O/15A-span sal moet wen om die Finsbury B-liga te verower,” verduidelik Jacobs.
Vir eers moet Gimmies dit een wedstryd op ‘n slag hou en sorg dat hul hiedie Saterdag (7 Februarie) ‘n oorwinning teen Marais Viljoen inpalm.



