SportSport

Nuwe Luiperds hoofafrigter wil geleenthede skep

"Spelers moet weet dat hulle by die Luiperds raakgesien word, kwaliteit rugby sal speel en dat hul die geleentheid het om hul rugby verder te neem juis omdat hulle uit ons sisteme kom."

Die potensiaal wat by die Luiperds ontgin kan word maak vir die Luiperds se nuwe hoofafrigter, Riaan van Straten, ongelooflik opgewonde.

“Rugby is 99 persent mental. Hier by die Luiperds wil ons spelers skep wat waardes het en iets vir die samelewing op en van die veld af beteken.”

Afrigting vir Van Straten nie net ‘n werk nie, dit is ‘n roeping.

“In Noordwes is hier soveel rugbytalent. Die NWU is hier, sowel as top skole. Daar is geen rede dat die Luiperds nie ‘n sterk produserende Unie kan wees nie.”

Van Straten, wat amptelik as Luiperds se hoofafrigter in Januarie begin het, het verlede jaar die Luiperds in ‘n moeilike tydperk as interim hoofafrigter gelei.

Vanjaar kan hy sy eie stempel op die span afdruk. Dit is ‘n stempel waar waardes en eenheid as die spreekwoordelike ink funksioneer.

Volgens Van Straten moet die Luiperds ‘n platform vir plaaslike talent wees en moet daar ‘n trots wees om vir die Luiperds te speel.

Kyk die video hier:

“Spelers moet weet dat hulle by die Luiperds raakgesien word, kwaliteit rugby sal speel en dat hul die geleentheid het om hul rugby verder te neem juis omdat hulle uit ons sisteme kom.”

Hy gee ook te kenne dat die rugbyondersteuners en die breë publiek van Potchefstroom en die groter Noordwes, die Luiperds wil sien kwaliteit rugby speel.

“Natuurlik is dit belangrik om te wen. Ons wil rugby speel wat mense na Olënpark toe trek en as hul teruggaan huistoe moet voel dat hul hul tyd goed spandeer het. Ons moet ‘n ervaring van trots terugbring. Ons kan kan nie verwag dat die mense die Luiperds ondersteun as ons nie die gemeenskap ondersteun en meer sigbaar is nie,” verduidelik hy.

Hierdie rugbystrateeg beaam dat die Luiperds nie altyd die luuksheid het om die top spelers te koop nie, maar dat daar strategies aanwinste gemaak is om spelers te werf wat vir die Luiperds wil speel.

Hy weet wat dit is om rugby van grondvlak te neem en ‘n sukses daarvan te maak. Motivering is nie vir hom ‘n probleem nie – iets wat hy in vyf jaar in Rusland bewys het. Hy het daar spanne soos Strela, Dinamo Moscow en Lokomotiv Penza afgerig.

“Rusland was ‘n goeie geleentheid gewees. Ek het baie geleer,” vertel Van Straten, wie se vrou nog in Rusland skoolgee, voordat sy in Maart vanjaar met hul kinders in Suid-Afrika sal aansluit. Van Straten en sy gesin kan ook Russies taamlik vlot praat.

Van Straten se afrigtingspan sluit in Freddy Ngoza (voorspeler-afrigter), Regardt Myburgh (analise) Christo Taljaard (kondisionering en prestasie-afrigter), Danicke Delport (fisio) en Dr. Jo-hanné Linde (spandokter).

“Ons is soos ‘n klomp broers wat saamwerk. Ons is ‘n klein span maar ons staan saam vir ons doelwitte.”

Die Luiperds se eerste wedstryd in die SA Cup is teen die Griekwas in Kimberley op 7 Maart. Die eerste tuiswedstryd vir die Luiperds in die SA Cup is teen die Cheetahs op 14 Maart. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button