Potch Dorp Rugbyklub het die spogregte nadat hulle gistermiddag (Saterdag, 18 Julie) op Piet Bosmanpark in Potchefstroom vir Klerksdorp Zambezi Rugbyklub met 43-26 in ‘n opwindende Neserliga-stryd geklop het.
Albei spanne het hulle harte uitgespeel, met die gemoedere wat hoog geloop het in ‘n oop en fisieke stryd.
Potch Dorp se plaasvervangervleuel, Phiri Ramphore, se twee drieë in die tweede helfte was deurslaggewend vir sy span en het die guns in die tuisspan se guns laat swaai. Ronaldo de Lima se skopvoet was ook in die kol met vyf doelskoppe en ‘n strafskop agter sy naam. Dié oud-Volkie het ook ‘n goeie drie net voor halftyd gedruk.
Klerksdorp het die beste moontlike begin gemaak toe die regtervleuel, Lefu Monoametsi, in die hoek oorgeduik het nadat hy eerste by ‘n kruisskop uitgekom het.
Potch Dorp se Jadin Johnson en Doyton Berry het hul span se eerste twee drieë gedruk om met 12-7 voor te loop.
Klerksdorp se losskakel, Walt Brand, is toe oor vir ‘n drie om die telling 12-12 te maak. Vir die volgende 10 minute was sake taai, maar Ferdi Joubert se individuele drie en De Lima se neus vir die doellyn het Dorp met ‘n gerieflike 26-12 voorsprong halftyd toe laat gaan.
Vier geelkaarte is ook gedurende die wedstryd (twee vir Potch Dorp en twee vir Klerksdorp) uitgedeel om sake nog interessanter te maak.
Ettienne du Plessis en Dolf Sellden het vir Klerksdorp in die tweede helfte gedruk, maar De Lima se strafdoel met ‘n minuut oor het die wen verseker.
Foto’s: Wouter Pienaar












