Al het die NWU Eagles netbalspan in Mahikeng hul tuisskare gehad om hul luidrugtig vanuit die pawiljoen te ondersteun, kon hul nie vir UJ in die eindstryd klop nie en moes met 56-44 die knie buig.
UJ het die beste netbal gisteraand (Maandag, 28 September) gespeel en sonder skroom gewys dat hul gereed was om hul eerste Varsity Netbaltitel te lig.
UJ het na elke kwart die hef in die hand gehad en was na die eerste 15 minute met 17-14 voor. Die wedstryd is in die derde kwart beslis toe UJ na ‘n hoër rat toe skuif en NWU se foute straf om met 46-30 voor te loop.

Die dames in oranje het nie weer teruggekyk nie en kon met groot glimlagte die trofee lig.
Vir die NWU was dit ‘n geval van so naby, maar tog so ver met die dat hul by die laaste hekkie gestruikel het. As verdedigende kampioene het die NWU hul alles gegee in ‘n opwindende en soms naelbytseisoen.
UJ se Tarle Mathe is as die speler van die wedstryd aangewys.
Die Madibaz se Juanita Van Tonder is as die speler van die toernooi aangewys.




