Baie oortredings bevestig gedrag
Die informele peiling wat studenteverslaggewers van die NWU by vier stopstrate op die Bult gedoen het bevestig dit wat Potchefstroomse motorbestuurders daagliks ervaar.

Die informele peiling wat studenteverslaggewers van die NWU by vier stopstrate op die Bult gedoen het bevestig dit wat Potchefstroomse motorbestuurders daagliks ervaar.
Stopstrate het vir die meeste mense net ’n toegeeteken geword. Inteendeel, veral vierrigtingstopstrate het die “voordeel” dat een van die motoriste darem so half en half gaan stop en dan kan die ander een ongestoord oorjaag.
Laasgenoemde is nie ’n gespot met die situasie nie.
Dis feite wat daagliks in die stad voor die oë van motoriste afspeel. En as so ’n oortreder vinger gewys word, reageer hulle asof die teregwyser verkeerd is.
Die skokkende van die bevinding is egter dat die peiling, hoewel klein, wys dat byna twee derdes van motoriste daaraan skuldig is om nie behoorlik by stopstrate stil te hou nie.
Wat verder skok is dat die kruising waar die meeste oortredings plaasvind juis by die Puk se hoofingang in Hoffmanstraat is. Letterlik honderde voetgangers gebruik daagliks hierdie kruising om na en van die Puk-kampus te stap.
Die skrywer van hierdie kommentaar het vandeesweek self gesien hoe ’n voetganger byna hier raakgery is toe ’n jong man skaars spoed verminder het toe hy die kruising nader en oorgery het. Die peiling sluit ook aan by wat ’n bekommerde inwoner en iemand met ’n belangstelling in verkeersvloei en -bestuur, afgetrede prof. Antoon Goossens, ’n tyd gelede bevind het.
Die vraag is egter nou wat ons verkeersafdeling met hierdie inligting gaan doen.
Hopelik word dit nie afgelag as ’n klein onbenullige peiling nie.
Min Potchefstromers sal verskil dat hierdie ’n alledaagse verskynsel is.


