Die groot skoonmaak
Mens kan nie help om opgewonde te raak oor die skoonmaak-aksies wat tans deur die Potch-Tlokwe Sakekamer saam met ander instansies aangepak word nie.

Mens kan nie help om opgewonde te raak oor die skoonmaak-aksies wat tans deur die Potch-Tlokwe Sakekamer saam met ander instansies aangepak word nie.
Vrydag 22 April was dit die Bult se beurt waaraan verskeie besighede deelgeneem het. Die Akker Koffiehuis het mede-besighede uitgedaag om daarmee te help. Dit was ’n baie groot sukses.
Dinsdag 3 Mei is dit die tuine van die Banketsaal se beurt. Die stadsraad, universiteit en sakelui gaan hierby betrokke wees.
Op 14 Mei word die Mooirivier saam met Mnr. en Mej. Kampus, die stadsraad en sakelui aangepak.
Potchefstroom was die eerste finalis wat in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie aangekondig is. Potchefstromers kan vanaf 11 tot 17 Mei stem sodat ons die ander finaliste soos Ballito, Hoedspruit, Paul Roux en Dullstroom kan uitstof.
Die wenner word op Woensdag 25 Mei bekend gemaak.
Die wendorp kry R1 miljoen se bemarkingswaarde, ’n 30 sekonde advertensie oor die dorp wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai word en ’n groot makietie vir die wendorp se mense!
Om Potchefstromers te motiveer om te stem is dit nodig dat ons trots op ons dorp sal wees en dit sal net soveel makliker wees as dit mooi en skoon is.
Dit sal egter jammer wees as die skoonmaak net voortduur tot die kompetisie afgehandel is. Hopelik gaan dit by alle inwoners vassteek hoe belangrik dit is om ons mooi stad skoon te hou en hulle twee keer sal dink voordat gemors word.
Na verlede Vrydag se skoonmaak-aksie op die Bult het dit die Maandag maar weer aaklig vuil gelyk. ’n Meer permanente oplossing vir die Bult is dringend nodig.



