POLOKWANE – In 2023 het die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) bevind dat meer as 78% van Suid-Afrikaanse leerders nie met begrip lees nie. In Limpopo styg die persentasie selfs tot 90%.
Lees is egter een van die belangrikste maniere om jou woordeskat uit te brei en jou taalvaardighede te verbeter.
Ouers kan kinders se liefde vir lees aanwakker deur nie net vir hulle boeke voor te lees nie, maar ook deur self boeke te lees.
Op 23 April het Akademie Reformia Wêreldboekedag op ‘n skeppende en leersame manier gevier.
Laerskoolleerders het die geleentheid gekry om met ‘n hoed wat hul gunsteling storie verteenwoordig, skool toe te kom.
Daarna het hulle die kleuters by Kleinbegin Kleuterskool vermaak deur hulle gunsteling stories voor te lees.
Die kleuters het behoorlik aan die lesers se lippe gehang en kon nie genoeg van die stories kry nie.