Local sportSport

Jongste klubspeler maak groot naam

Duncan van der Walt speel al vandat hy ses jaar oud is rugby.

POLOKWANE – “Rugby is meer as net ‘n sport. Dit wys karakter van hoe hard ‘n mens gestamp kan word en steeds opstaan en voortgaan,” vertel Duncan van der Walt (20), die jongste speler van die Noordelikes rugbyspan wat onlangs kon deel in die keuring vir die Amateurweek in Johannesburg.

Hy het in Maart vanjaar begin klubrugby speel en speel tans flank vir die Noordelikes se eerstespan, ‘n prestasie waarop hy baie trots is.

Duncan speel al vandat hy ses jaar oud is rugby.

Hy is tans deel van ‘n vakleerlingskapprogram by MGM Motors, maar glo dit is belangrik om te oefen en tyd met familie deur te bring.

“My grootste droom is om iets wat ek geniet vir ‘n lewe te doen,” vertel hy verder.

Van jongs af het Duncan na Springbokspeler, Schalk Burger gekyk vir inspirasie. “Hy het altyd alles gegee, van die oomblik wat op die veld stap tot die eindfluitjie blaas en dis hoe ek oor die spel voel. Mens moet alles gee en jou hart op die veld los,” sê Duncan.

Hy sê die geleentheid om teen meer ervare spelers te speel is ‘n voorreg en dat hoe vroeër jy begin, hoe meer kans kry jy om te leer en om aan jou tekortkominge te werk.

“Ek sou nêrens in my lewe gekom het sonder die leiding van my ouers en my vriende wat my plat op die aarde hou nie,” vertel hy. Hy sê hy is baie geheg aan sy vriende en sy familie.

Duncan sê sy familie ondersteun en moedig hom aan om met elke wedstryd beter te doen.

“Moet nooit ophou nie. Jy gee nie op wanneer jy probleme het nie, jy hou aan probeer tot dinge begin beter word,” is sy raad aan jong spelers.

Sy raad aan bekommerde ouers is om te weet dat rugby mens lewenslesse leer. “Om alles te kan gee en sterk karakter te wys in moeilike tye lei tot persoonlike groei en maak van jou ‘n beter mens,” vertel Duncan.

riana@nmgroup.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button