POLOKWANE – Dié uitblinker het onlangs die goeie nuus ontvang dat hy gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig in Luanda, Angola tydens die Youth Games in Desember. Dis die tweede keer wat hy vir die SA-span gekies is.
“Ek het vroëer vanjaar in die vlak-drie nasionale kompetisie en aan die senior nasionale swemkompetisie deelgeneem om te kwalifiseer vir die Youth Games. Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg en ek is baie opgewonde,” vertel Ude.
Ude spesialiseer in vlinderslag en rugslag en hy vertel dat sy resep vir sukses beslis harde werk is. “Dit is ook makliker as jy lief is vir wat jy doen.”
Hy vertel dat hy harder sal begin oefen en ook sy dieet gaan aanpas in voorbereiding vir die Youth Games.
Hy oefen tans 10 keer ‘n week, in die oggend en ook in die middag.
“Ek hoop ek maak nie net my klub nie, maar ook my land trots.”
Sy afrigter, Douggie Eagar, vertel dat hy vreeslik trots is op Ude.
“Hy is ‘n ywerige, hard- werkende swemmer en ek glo hy sal goed doen.”



