Havies rassisme: Onderwysers aangekla
Die onderwysers en skoolhoof se herontplooiing is tot vroeg volgende jaar verleng hangende die uitkomste van hul dissiplinêre verhore.
Die rassisme-hêrrie by Laerskool Dr Havinga blyk steeds ver van afgehandel te wees.
Volgens die woordvoerder van die Onderwysdepartement, Steve Mabona, is die departement se ondersoek na beweerde rassisme by die skool voltooi, en dissiplinêre verhore teen die betrokke onderwysers sal glo gedurende die nuwe skooltermyn begin.
“Die uitkoms van die verhore sal, sodra dit afgehandel is, aan die betrokke personeellede bekend gemaak word,” sê Mabona.
Die Roodepoort Record het intussen verneem dat die herontplooiing van die skoolhoof en betrokke onderwysers verleng is.
• Lees ook: Rassisme-ondersoek by Laerskool Dr Havinga duur voort
Verskeie ouers met wie die Record gesels het, is uiters ontevrede oor die hantering van die saak deur sowel die departement as die skoolbeheerliggaam. Ouers voer aan dat die leerder wat hoofsaaklik vir die hele voorval verantwoordelik is, selfs tydens die afgelope eksamen die skool verder ontwrig het deur te weier om die eksamen, soos ooreengekom, in die waarnemende skoolhoof se kantoor af te lê, en deur in gewone klere in plaas van skooldrag vir die eksamens op te daag.
In reaksie hierop sê Mabona dat die beheerliggaam verantwoordelik is vir die handhawing van dissipline aan die skool.
“Dit is die beheerliggaam se plig om die nodige stappe te doen teenoor leerders wat die skool se gedragskode oortree het.”
• Lees ook: Havies rassisme: Ondersoek in gevorderde stadium
Mabona sê verder dat, alhoewel die jaareindeksamen ’n kritieke tyd by enige skool is, die departement nie sy verantwoordelikheid kan ontwyk om enige beweringe van rassistiese gedrag deur onderwysers teenoor leerders te ondersoek nie.
“Ons reaksie moet onmiddellik en streng volgens die prosedures wees, aangesien sulke aantygings daarop dui dat leerders se grondwetlike regte tot gelykheid en waardigheid moontlik geskend word, wat die integriteit van die onderwysstelsel kan ondermyn.
• Lees ook: ‘Dis bog,’ sê ouers oor beweerde rassisme by Laerskool Dr Havinga
“Die beskerming van ons leerders is van uiterste belang, en in hierdie geval is ons oortuig dat alle nodige prosedures nagevolg is om die beweringe deeglik en sonder inmenging te ondersoek,” sê Mabona.
Hy beklemtoon dat die departement hierdie aangeleentheid as ’n interne saak beskou en derhalwe geen verdere inligting aan die publiek sal bekend maak nie.
Die Record het intussen ook verneem dat aansoeke vir beskermingsbevele teen die betrokke groep leerders, wat deur ouers van geaffekteerde leerders ingedien is, in die Roodepoort Landdroshof tot volgende jaar uitgestel is.



