Motorfiets bars in vlamme na botsing op R59
'n Motorfiets het aan die brand geslaan na 'n botsing op die R59-snelweg naby Meyerton.
MEYERTON. – Die ongeluk het glo Woensdagoggend (6 Julie 2022) in die omgewing van 08:00 naby Samancor gebeur.
Volgens die A Assist Towing-insleepdiens het die motorfietsryer slegs geringe beserings opgedoen.
Hy is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.
Daar was glo twee ander voertuie, ‘n Renault Captur en ‘n Volkswagen Amarok-bakkie betrokke.
Daar word beweer dat die motorfiets in die stadige baan in Vereeniging se regting onderweg was toe hy oorgegaan het na die vinnige baan en skrams deur ‘n Renault Captur getref is.
Die man het van die fiets af geval waarna die Amarok-bakkie glo oor die motorfiets gery het en die staalperd aan die brand geslaan het.
Die bestuurders van die ander voertuie is glo nie beseer nie.
Die ander voertuie is effens beskadig maar die motorfiets het die slegste van die ongeluk afgekom.
