News

Kleuter brand met kookwater

Hoewel daar onlangs weens ’n ernstige infeksie vir klein Jennifer se lewe gevrees is, het haar toestand intussen merkbaar verbeter.

VEREENIGING – ’n Vyfjarige kleuter van die Mooilande-kleinhoewes buite die dorp, wat in Mei ernstige brandwonde opgedoen het toe sy in ’n emmer kookwater beland het, moes hard veg om haar lewe.

Die kleuter het glo ses weke gelede by haar ouerhuis oor iets gestruikel en agteroor in ’n emmer kookwater geval.

Sy het derdegraadse brandwonde opgedoen en word sedertdien in die Sebokeng-hospitaal behandel.

“Die brandwonde was diep en amper swart,” vertel haar ouma Jenny van Staden, wat in Risiville woon.

Jennifer het brandwonde aan haar maag, rug, bo- en binnebene, boude en privaatdele opgedoen.

“Al wat sy wil doen is oefen, want die dokter het gesê as sy sterk genoeg is, kan sy huis toe gaan,” vertel Jenny.

Die vyfjarige Jennifer kort nadat sy in ‘n emmer kookwater beland en in die Sebokeng-hospitaal opgeneem is. Foto: Verskaf

Die pad na herstel is egter besaai met terugslae. Haar liggaampie het onlangs in skok gegaan weens ’n ernstige infeksie in die brandwonde.

“Die dokter het reguit vir ons gesê: ‘Nou bid ons, want daar is niks meer wat ons medies kan doen nie.’ ’n Mens verwag nooit om sulke woorde te hoor nie, maar ons het dadelik begin bid,” sê Jenny.

Die gesin het ’n gebedsgroep gestig waar hulle hul gebedsversoeke gedeel het en ander aangemoedig het om saam met hulle te bid.

“Vandag kan ek getuig dat daar ’n God is. Met almal se volgehoue gebede het die nuutste uitslae gewys die infeksie is weg. Haar hartklop is weer normaal en die kleur in haar gesiggie het teruggekeer.”

Weens die lang herstelpad wat nog voorlê, het die gesin ’n BackaBuddy-fondsinsameling begin.

“Ons wil haar bitter graag na ’n privaathospitaal nader aan ons probeer oorplaas,” verduidelik haar ouma.

Wanneer die kleinding uiteindelik ontslaan word, sal sy na verwagting in haar ouma se sorg geplaas word.

Daar lê egter nog maande se herstel voor. Omdat die wonde steeds rou is, kan daar nog nie bepaal word of sy veloorplantings sal benodig nie.

Sy sal ook intensiewe fisioterapie en sielkundige berading moet ontvang.

Dit gaan tans beter met die dapper klein Jennifer, maar daar lê nog ‘n lang pad na herstel vir haar voor. Foto: Verskaf

Ten spyte van die moeilike omstandighede is Jenny diep dankbaar.

“Ek wil elke dokter en verpleegster by die Sebokeng-hospitaal bedank vir alles wat hulle reeds vir haar gedoen het, en steeds doen.

Baie dankie ook aan elkeen wat so onbaatsugtig saam met ons bid. Al wat ons nou wil hê, is dat sy volkome gesond word en huis toe kom.”

Indien iemand die gesin finansieel kan bystaan om die kleuter na ’n privaathospitaal oor te plaas, kan Helena Lombaard, wat namens die gesin optree, by 071 932 3933 gekontak word.

Daar kan ook direk in die BackaBuddy-fonds geld geskenk word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button