Vaal-atlete trotseer Comrades-uitdaging
Van ’n silwermedalje en persoonlike beste tye tot ’n 20ste Comrades – Die Vaal Atletiekklub se atlete het die legendariese roete met trots aangepak.
Die Comrades-marathon bly een van die wêreld se grootste toetse van uithouvermoë, deursettingsvermoë en karakter.
Vanjaar het verskeie atlete van die Vaal Atletiekklub (VAC) dié uitdaging aangepak en hul klub met trots op die roete tussen Durban en Pietermaritzburg verteenwoordig.

Voor in die VAC-groep was Anja de Bruin, wat ‘n uitstekende tyd van 7:08:06 aangeteken het en daarmee ‘n silwermedalje verwerf het. Sy het boonop gevaarlik naby aan die gesogte sewe-uur-kerf geëindig.
Jacques Burger was die vinnigste manlike VAC-atleet met ‘n indrukwekkende tyd van 7:37:29.

Monica Jordaan het ook sterk vertoon en die eindstreep in 10:11:25 oorgesteek, terwyl Leon van Rensburg sy 20ste Comrades suksesvol voltooi het. Daarmee het hy sy Dubbelgroennommer verwerf – ‘n besonderse mylpaal wat slegs ‘n handjievol atlete bereik.
Vir Liza Janse van Rensburg, ‘n onderwyseres, was vanjaar se wedloop ekstra spesiaal. Sy het haar eerste Comrades voltooi en daarmee by die groep atlete aangesluit wat die uitdagende ultramarathon suksesvol baasgeraak het.

Ander VAC-atlete wat die eindstreep bereik het, sluit in Johan Claassen, Christiaan Cloete, Charles Malherbe en Pieter de Wet.
Soos elke jaar was die Comrades nie sonder teleurstellings nie.

Nie alle atlete kon die wedloop voltooi nie, maar die moed om die uitdaging aan te pak en maande se voorbereiding in te sit, bly ‘n prestasie op sigself.

