Jeugland inwoners geniet D.F se Kersfees in Junie
Jeugland se inwoners is bederf met tuisgemaakte sop, nagereg, geskenkpakkies en 'n hele konsert deur LS D.F Malherbe se leerders.
VANDERBIJLPARK – Laerskool D.F Malherbe se leiers van 2026 het saamgespan en ʼn Kersfees in Junie vir die inwoners van Jeugland Tehuis vir Bejaardes gereël.
Daar is lank beplan en geoefen vir die groot dag. Mense van heinde en verre het toiletware en lekkernye aangedra vir die geskenkpakkies.

Leerlinge wat wou deelneem aan die DF het Talent konsert het seker gemaak dat hul goed voorberei is.
Ma’s het ingespring en tuisgemaakte sop voorsien met allerlei lekker brode en natuurlik was daar malvapoeding en vla.
Die groot dag was 25 Junie. Die inwoners het met groot afwagting vergader en die leerders se oë het geblink van opgewondenheid. Eers is daar konsert gehou.

Die program het 37 items bevat wat alles van judodemonstrasies tot by danse, voorlesings, sang en voordrag bevat het.
Chané Hanekom het spesiaal ʼn gedig geskryf en voorgedra vir die groot okkasie:
Goeiemôre almal, dit is lekker om hier te wees,
want vandag vier ons elke ouma, oupa en wyse gees.
Google gee antwoorde vinnig en paraat,
maar niks klop ooit ‘n ouma of oupa se raad.
Soos ‘n pot sop wat stadig op die stoof kan prut,
word wysheid met die jare van groter nut.
Julle stories is beter as enige TV-program,
want Google gee feite, maar julle gee die hele dramagram!
Geniet die dag met gesels, lag en plesier,
want vandag is julle die VIP’s wat ons almal hier kom vier.
Ek hoop hierdie dag verloop so goed soos die vloei van warm sop!

Na die vrolike verrigtinge het die inwoners aangesit vir ʼn heerlike ete van warm sop en nagereg bedien deur die leerlingraad.

