Local newsNewsNews

Marita – positiewe inspirasie met hart van goud

Marita Seyffert straal na haar stamseloorplanting teen veelvuldige sklerose. Nou is sy op ‘n missie om ander lyers te help.

VANDERBIJLPARK. – Marita Seyffert het op 25 September haar 42ste verjaardag gevier en sy straal. Waar sy die afgelope twee jaar haar verjaardag in die hospitaal deurgebring het, kon sy hierdie jaar in die tuin werk. Nie net kyk wat ander doen nie, sy kon self weer die blomme plant.

Marita Seyffert kan weer breed glimlag na ‘n suksesvolle stamseloorplanting

Marita het ses maande gelede ‘n stamseloorplanting gehad as deel van haar veelvuldige sklerose (MS) behandeling. “Ek het ‘n wonderwerk gekry,” en sy straal van vreugde.

Waar dit die meeste ander pasiënte lank neem om vordering te sien, het Marita ‘n merkwaardige herstel gehad.

Marita is in 2008 met MS gediagnoseer, maar die eerste 13 jaar het sy haar nie daaraan gesteur nie.
Teen Februarie 2021 het die MS haar egter platgetrek. Sy kon later byna niks meer vir haarself doen nie en was in ‘n rolstoel gekluister.

Alhoewel haar sesmaande-ondersoek na die stamseloorplanting nog voorlê, glo sy sy is genees. “My man Johann, het vir my ‘n motor gekoop. Ek kan nou weer normaal motor bestuur. En loop!

“Al is my balans nie altyd na wense nie. Dan sê ek maar net vir mense, verskoon tog ek is nie dronk nie,” lag sy vrolik. Sy gebruik ook tans glad nie enige MS-medisyne nie.

Marita en Johann Seyffert Foto’s: Verskaf

Johann was nog altyd haar grootste steunpilaar. Die paartjie het destyds op ‘n toe-oog-afspraak gegaan wat deur Marita se beste vriendin se ma gereël is.

“Ek het in Lichtenburg grootgeword en skoolgegaan. Op ‘n stadium het ek ‘n gastehuis in die dorp bestuur en een van die gaste het my oortuig om vir sy firma te gaan werk in Pretoria.

Dis toe dat ek Johann ontmoet het, hy was my beste vriendin se neef en wel, nou is ons al 19 jaar getroud!” Die paartjie het in Vanderbijlpark kom bly omdat Johann hier gewerk het.

Vandag is hul twee dogters onderskeidelik in Hoërskool Driehoek en Transvalia. “Die twee het uiteenlopende persoonlikhede en blom in hul skole. Ons is so trots op hulle,” vertel sy met ‘n glimlag.

Marita het vir jare met debiteure en krediteure gewerk, maar moes bedank nadat die MS te erg begin raak het. Deesdae het sy haar eie besigheid waar sy skoonmaakmiddels vanaf die huis verkoop.

Haar twee Duitse Herdershonde, Zhara en Bruno, hou haar ook besig. Zhara is nou 18 maande en Bruno slegs vier maande oud. Die twee pas haar soos goud op en sy verwys na hulle as haar lyfwagte.

“Dit gaan baie goed,” vertel sy. “Ek is ook baie besig met fondsinsamelingsprojekte, veral vir ander MS-lyers. Ek was so geseënd met die fondsinsamelingsprojekte wat my vriende en familie aangepak het. Weet jy, ek het selfs donasies van oorsee ontvang.”

Die stamselvervanging is baie duur, maar daar is genoeg geld ingesamel om vir haar behandeling te betaal en intussen ook vier ander lyers te help. Deel van haar missie is ook om meer mense en instansies van MS bewus te maak.

“Ons begin al ‘n verskil sien. Waar mediese fondse tot onlangs net geweier het om vir stamseloorplanting te betaal, het een van die heel grootste mediese fondse wel die afgelope tyd vir ‘n  pasiënt se behandeling betaal. Dis ‘n begin,” verklaar sy.

Deur haar fondinsameling kon sy nog drie ander MS-lyers help. Sy glo daaraan om positief en besig te bly.

“Toe die MS op sy ergste was, het ek soos ‘n kluisenaar in my huis geleef, maar nou kan ek weer self bestuur, kosmaak en in die tuin werk!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: [email protected]
Back to top button