Ngwathe Munisipaliteit (Parys) kry administrateur
Dit was inderdaad noodsaaklik, en hoewel dit eers gelyk het of die hofbevel nie toegepas gaan word nie, is 'n administrateur aangestel.
PARYS – Kort nadat AfriForum dringende antwoorde geëis het van MaQueen Letsoha-Mathae, premier van die Vrystaat, oor die provinsiale regering se versuim om die Ngwathe-plaaslike Munisipaliteit onder administrasie te plaas, is daar ‘n administrateur aangestel.
Die LUR vir Samewerkende Regering, Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings, Saki Mokoena, het vroeër die week met die leierskap van die munisipaliteit vergader om die implikasies van die Konstitusionele Hof se beslissing amptelik oor te dra.
Hierdie beslissing het die Vrystaatse Hoërhof se uitspraak oor die bestuurs- en diensleweringsuitdagings binne die munisipaliteit bekragtig.
Na aanleiding van ’n besluit deur die Vrystaatse Uitvoerende Raad om die hofbevel toe te pas, het die LUR die intervensieproses uiteengesit en dr. Solly Montingoe bekendgestel as die Administrateur.
Motingoe is aangestel om toesig te hou oor die implementering van die intervensie.
Die LUR het gesê die intervensie is daarop gemik om doeltreffende bestuur te herstel, aanspreeklikheid te versterk en dienslewering aan die inwoners van die Ngwathe-plaaslike Munisipaliteit te verbeter.
“Geen regeringsinstelling is bo die reg verhewe nie,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak. Daar het kommer geheers nadat dit aan die lig gekom het dat die munisipale raad, wat ingevolge ’n hofbevel reeds ontbind moes wees, verlede week ’n nuwe begroting aanvaar het.
Die Vrystaatse-hooggeregshof in Bloemfontein het reeds op 20 Junie 2025 beslis dat Ngwathe sy grondwetlike en administratiewe pligte teenoor inwoners versuim het.
Die hof het die provinsiale regering beveel om ingevolge artikel 139(5) van die Grondwet in te gryp, ’n herstelplan te implementeer, die raad te ontbind, ’n administrateur aan te stel en ’n tydelike begroting goed te keur.
Hierdie bevel is finaal en afdwingbaar nadat die Konstitusionele Hof op 2 Junie vanjaar die munisipaliteit se laaste poging tot appèl van die hand gewys het.
AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by die Parys-tak, kontak Schalk Burger by 082 653 4281.