Sasolburg Vories ontdek Vereeniging se ryke geskiedenis
Vereeniging het 'n groot rol gespeel in die Anglo-Boereoorlog Sasolburg se Voortrekkers het Vrydag historiese plekke besoek.
VEREENIGING – Die Voortrekkers se Sasolburg Kommando het Vrydagmiddag by verskeie geskiedkundige plekke in die dorp besoek afgelê.
Die uitstappie was gelei deur die befaamde geskiedeniskenner Kobie Ströh, of dan tannie Kobie soos die Vories haar ken.

Die eerste besoekpunt was die Vryheidsmonument. Die monument met die bekende woorde, Gewond maar onoorwonne is in 1961 onthul. Die beeld is ontwerp deur Coert Steynberg en herdenk die Vrede van Vereeniging wat op 31 Mei 1902 gesluit is.
Dit vat ook die gevoel vas wat na die Anglo-Boereoorlog onder die Afrikaners geheers het.
Na die Vryheidsmonument het die Voortrekkers die Konsentrasiekamp begraafplaas besoek.
In die konsentrasiekamp is 108 kinders onder die ouderdom van 15 jaar tydens die Anglo-Boereoorlog oorlede en 48 persone ouer as 15 jaar. Vandag is daar ʼn gedenksteen met die oorledenes se name in die begraafplaas.

Die Vories het ook die kans gehad om die Vredesboom te besoek. Onder die boom het Britse en Boere afgevaardigdes onderhandel om die vredesooreenkoms na die Anglo-Boereoorlog te beklink. Die Vrede van Vereeniging is op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken.
Die middag is afgesluit met ʼn besoek aan die Maccauvlei Golf Club waar die Maccauvlei Garden of Remembrance geleë is.
Die tuin van herinnering is opgedra aan die 68 Britse soldate wat deur die loop van die Anglo-Boereoorlog in en om Vereeniging gesneuwel het.