Vaalpets honde bekoor skoonheidskoninginne
Vaalpets se honde is Saterdag lekker bederf toe Mrs. Cosmo SA 2026 en Miss Reinas World International 2025 kom kuier het - met baie snoepgoed.
VANDERBIJLPARK – Mrs. Cosmo South Africa 2026, Michelle Blignaut en haar dogters, Miss Reinas World International 2025 Michaela Blignaut en Ashley, het Saterdag ʼn besoek aan Vaalpets Rescue Centre afgelê.

Hulle het met ʼn bakkievrag hondekos, speelgoed, lekkernye en selfs ʼn hondehok opgedaag. Dit is deel van hul Nelson Mandela Dag – 67 Minute vir liefdadigheid-inisiatief. Michelle sê hul familie, vriende en selfs besighede het skenkings gegee.
Andy Wrigley van Vaalpets het die dames op ʼn toer deur die gronde gevat. Die honde was stertswaai gelukkig met al die doggy treats wat uitgedeel is en het almal se harte gesteel.

Daar is tans 150 honde by Vaalpets en Andy sê hulle kan nie meer inneem nie. Die honde is almal gesond en tuis in hul onderskeie kampe met houthuisies waar hul kan slaap.
Volg Vaalpets gerus op Facebook by Vaalpets Rescue Centre om meer oor die honde wat aangeneem kan word te lees.
