Mnr. Jerry Fowlds sterk aan na been amputasie
Jerry Fowlds, oud-onderwyser van Dr. Malan en Laerskool Midvaal, is baie siek weens 'n infeksie wat die dokters nie onder beheer kan bring nie. Drastiese stappe is Sondag geneem.
MEYERTON – Een van die dorp se bekendste en geliefste oud-onderwysers, Jerry Fowlds se been is Sondag tot by sy heup geamputeer.
Hy is tans in die kardiologiese intensiewe sorgeenheid van Unitas Hospitaal in Centurion. Sy dogter, Hettie sê die amputasie moes gedoen word omdat haar pa infeksie in die been gekry het. “Die spesialis het vir ons gesê dis of sy been of sy lewe.”

Hy veg nou al die afgelope drie jaar teen die antiobiotika-weerstandige infeksie en het al meer as die helfte van die jaar in die hospitaal deurgebring.
Jerry (68) se gesondheidsprobleme het in 2011 begin toe hy bestraling vir prostaatkanker ontvang het. Die kanker was daarna in remissie, maar in 2014 moes hy bestraling vir kanker in sy buik ontvang.
Die bestraling het komplikasies veroorsaak en sedertdien het hy met sy been gesukkel. In 2024 het hy ʼn heupvervanging gehad en is daar verskeie fondsinsamelingsprojekte gehou om vir vier limfomleidings te betaal.
Dit was nadat daar vasgestel is dat littekenweefsel in sy lies die bloedvloei en limfdreinering beïnvloed, en senuwees vasdruk.
Dit moes egter alles gestaak word, omdat sy infeksietellings bly klim het. Volgens Hettie het haar pa etlike operasies al die jaar gehad. “Hy kry baie swaar en is in baie pyn, maar sy gees is ongelooflik sterk,” vertel ʼn emosionele Hettie.
“My pa is ʼn ander karakter. Hy het Sondag na die amputasie gesê ek moet solank kaartjies kry, want hy gaan die Midmar Myl weer swem.” Jerry het juis sy tweede heupvervanging uitgestel om eers sy 23ste Midmar Myl te swem.
Jerry het ʼn ongelooflike innerlike dryfkrag om te leef en dit voluit te doen. Hettie sê haar pa hou hulle positief en aan die gang, al is hy die een wat in die hospitaal is. Sy sê hy huil net omdat hy sy honde baie mis.
“Ek leer steeds elke dag by hom hoe om die lewe aan te pak. Hy het my geïnspireer om vir die eerste keer in 24 jaar weer te swem. Ek was bevoorreg om hierdie jaar die Midmar saam met hom te kon doen. Hy leef in die nou, ek doen ook, want môre is nie gewaarborg nie,” sê Hettie.