Windbuks vermoedelik tydens kaping gebruik
Die SAPD het ’n fynbeplande lokval opgestel en die voertuig op die R82 voorgekeer.
SASOLBURG – ’n Intelligensie-gedrewe operasie het gelei tot die arrestasie van twee jong mans, onderskeidelik 20 en 21 jaar oud, vir die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.
Op Sondag, 5 Julie, omstreeks 02:00, het lede van die Sasolburg-hoofwegpatrollie inligting ontvang oor ’n wit dubbelkajuitbakkie wat na bewering by ’n kuierplek in Kroonstad gekaap is en in die rigting van Sasolburg onderweg was.
Die twee insittendes is ondervra, maar kon nie ’n bevredigende verduideliking verskaf vir waarom die voertuig in hul besit was nie.
’n Windbuks, wat vermoedelik tydens die kaping gebruik is, is ook saam met die voertuig gekonfiskeer.
Die twee verdagtes sal na verwagting binnekort in die Sasolburg-landdroshof verskyn op ’n aanklag van die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.

