Mense staan tou by nuwe bakkery
Daar is 'n splinternuwe bakkery in die dorp en hul tuisgebakte brode, terte en ander lekkernye laat mense van hul diëte vergeet.
VANDERBIJLPARK – Vrydagmiddag het oud en jonk voor ʼn winkel in Helena Lochnerstraat saamgedrom. Vrolike musiek het opgeklink en die opwinding was voelbaar.

Almal het gewag vir die amptelike opening van Our Daily Bread Bakery Café. Sandra Photiou het die mense welkom geheet, voordat klein groepies op ʼn slag ingelaat is.
Die nuwe bakkery is klein, maar behoorlik uitgerus met alles van koffie tot ʼn roomysmasjien.
Die rakke en vertoonkaste het gekreun onder al die vasgebakte lekkernye, van Portugese prawn-koekies tot by eclairs in verskillende geure, tertjies en groot koeke.

Almal wat ingegaan het, het met sakke vol eetgoed uitgeloop. Buite het die ry langer geword. Sandra en Nick se dogter, Zoie (8) en van die werkers het met skinkborde vol soetgoed die mense in die ry bederf.
Van sout tot soet, die bakkery het iets vir elkeen se smaak. Dis anders. Dis lekker. Familieresepte word gebruik. Dit gee lewe aan die kompleks en bring die gemeenskap saam.

Bure en ou vriende het mekaar voor die winkel raakgeloop. Daar is baie gesels in die rye en in die winkel. “Dit lyk baie fancy,” het een tiener laat hoor.

“Gaan julle partytjie hou?” het die joernalis een vrou gevra wat met ʼn sak gepak met koekies en tertjies uit die winkel gekom het. In haar hande het sy nog ʼn tert vasgehou. “Nee, alles het net te lekker gelyk, toe koop ek sommer baie.”
