Bejaarde sterf tydens brand in Parys
Medelye en ondersteuning stroom van oral af in ná die verwoestende brand.
PARYS – Speurders van Parys het ’n geregtelike doodsondersoek-dossier geopen ná die dood van ’n 77-jarige vrou in ’n brand wat Sondag by die Heldersig-kompleks uitgebreek het.
Tydens die brand by die residensiële kompleks het inwoners van vier van die wooneenhede al hul besittings verloor.
Brandbestryders was op die toneel en het hard gewerk om die brand onder beheer te bring maar dit was te laat.
Nadat die brand geblus is, is die liggaam van die 77-jarige vrou in een van die eenhede gevind. Sy is op die toneel dood verklaar.
Polisiewoordvoerder, sers. Josephine Rani het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat ‘n kers moontlik die brand veroorsaak het, maar beklemtoon dat die ondersoek steeds voortduur.
