Local newsNews

Vaaldriehoek se buurdorp is 150 jaar oud

Vanderbijlpark se buurdorp, Parys het 24 September groot gegaan met hul 150 jaar vieringe. Vaalweekblad het gaan inloer.

PARYS – Dié dorp langs die Vaalrivier was Erfenisdag van vroeg af in rep en roer. Vir besoekers wat nie bewus was van die belangrikheid van die dag nie, was dit vreemd om skielik mense in Voortrekkerdrag en selfs Engelse “soldate” raak te loop.

Die Vaalrivier Volkspelelaer voer hul passies uit in Breëstraat. Foto: Gerda Bruinette

Parys is die jaar 150 jaar oud en watter beter dag om hul geskiedenis te vier as Erfenisdag. Die braai is nie agterweë gelaat nie. Tussen die stalletjies onder die ou bome het die manne van die FAK rustig boerewors gebraai terwyl die Voorlopers Boereorkes mense se voete laat jeuk het met tradisionele boeremusiek.

Duke en Martie Bezuidenhout vat ‘n blaaskans in die koelte. Foto: Gerda Bruinette

In Breëstraat was daar teen 09:00 al nie meer parkering nie. Die mense het die restaurante se stoeptafels toegesit en by die groot winkel op die hoek het ʼn gesin hul luiters agter op hul bakkie tuisgemaak.

So reg uit die Anglo-Boereoorlog. Lede van Vaal Sentraal Kultuursake. Die vlagman kon nie oortuig word om vir die kamera te kyk nie. Foto: Gerda Bruinette

Uiteindelik is die strate afgesper en kon die blaasorkes van ver af gehoor word. Die optog was in aantog. Almal was vrolik ten spyte van die son wat goed korrel gevat het.

Die veteraanmotors in aantog. Foto: Gerda Bruinette

Dit was ʼn kleurryke gesig en ʼn mengsel van toeka tot nou. Van die laerskool trompoppies en die Tumahole Youth Brass Band, tot by die Volkspele groep, die Boere en Rooibaadjies uit die Anglo-Boereoorlog en die veteraan motors. Die agterhoede is gedek deur die brandweer en ander nooddienste.

Dwane Smith van Parys geniet sy rit op die motorfiets. Foto: Gerda Bruinette

Terwyl daar ʼn vertoning van plaaslike dansers en kunstenaars in die hoofstraat was, het die voorste gedeelte van die optog koelte onder die ou bome gaan soek, soos wat vele geslagte voor hulle al gedoen het.

Die trompoppies van plaaslike laerskole het eindelose energie. Foto: Gerda Bruinette
Vrolike musiek van die Tumahole Youth Brass Band. Foto: Gerda Bruinette
Die Voorlopers Tradisionele Boereorkes. Foto: Gerda Bruinette
Ewan Stolz een van SA se o24 Hokkiespelers dra die vlag. Foto: Gerda Bruinette
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: [email protected]
Back to top button