EntertainmentSportSport

NWU Alumnus onthou vyfkuns

VEREENIGING. – Vyf paaltjies van vyf agtereenvolgende aflewerings. Dit is iets waaroor die meeste krieketspelers waarskynlik net kan droom. Dit is egter iets wat in vetdruk-letters op oud-Vaaldriehoeker, Graeme Pieter Bouwer (50), ‘n alumnus van die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus, se getuigskrif pronk. Bouwer het dié nie-amptelike Suid-Afrikaanse rekord in 1991 op die Dick Fourie-stadion in …

VEREENIGING. – Vyf paaltjies van vyf agtereenvolgende aflewerings. Dit is iets waaroor die meeste krieketspelers waarskynlik net kan droom. Dit is egter iets wat in vetdruk-letters op oud-Vaaldriehoeker, Graeme Pieter Bouwer (50), ‘n alumnus van die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus, se getuigskrif pronk. Bouwer het dié nie-amptelike Suid-Afrikaanse rekord in 1991 op die Dick Fourie-stadion in Drie Riviere teen Meyerton Krieketklub in die Vaaldriehoek se Eersteliga behaal.

Graeme Bouwer in aksie vir die Suid-Afrikaanse sewesspan.

“Ek kan nie al my ‘slagoffers’ onthou nie. Die ‘hat trick’ was baie spesiaal. Ek kon net nie glo die vierde kolwer los die bal op ‘n ‘in-ducker’ nie. Die vyfkuns het gekom toe die kolwer randjie bygekry het en die bal in die paaltjiewagter se handskoen geklap het, niemand het dit verwag nie,” vertel hy nostalgies. Sy liefde vir krieket het as ‘n kaalvoetkannetjie aan die Laerskool Vryheidsmonument begin, waarna hy in 1988 aan die Hoërskool Overvaal in Vereeniging gematrikuleer het. Hy het daarna aan die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus gestudeer, wat destyds as die Watunis bekendgestaan het. Hy is ook een van min sportmanne wat daarop kan aanspraak maak dat hy rugby en krieket op senior provinsiale vlak gespeel het.

Hy het die wilgerlat vir die destydse Wes-Transvaal geswaai en vir die Bulls Superrugby vanuit die laaste vesting 27 keer gespeel. Maar dit is nie al nie. Hy het 45 wedstryde vir die destydse Vaaldriehoekse Rugbyunie se seniorspan gespeel, 34 vir Wes-Transvaal en 18 keer vir die Vrystaat uitgedraf. Die hoogtepunt van sy rugbyloopbaan was toe hy 94 wedstryde vir die nasionale sewesspan gespeel het. Hy het ook van 1996 tot 1999 vyf toernooie vir die Suid-Afrikaanse sewesspan gespeel. As wilgerlatswaaier het hy die Transvaalse Plattelandse distrikte-span gehaal, Nissanskild en Wes Transvaal o.23 gespeel.

“Rugby was my gunsteling sport, maar ek is spyt ek het krieket gelos. Ek moes nooit opgehou speel het nie. Ek mis veral die vriendskap en adrenalien,” gee hy te kenne. Joe Viljoen, bekende krieketspeler, adminstrateur en afrigter van die Vaaldriehoek wat deur Bouwer as sy krieketmentor beskryf word, het nie self die vyfkuns aanskou nie, aangesien hy self op die onderste veld by die Dick Fourie-stadion gespeel het.

“Dit (Bouwer se vyfkuns) is nooit amptelik in die annale aangeteken nie, maar ons het dit nagegaan en dit was die eerste keer in Suid-Afrika dat ‘n vyfkuns in ‘n Eersteliga-kragmeting behaal is. Hy (Bouwer) was ‘n beskeie en hardwerkende speler,” gee Viljoen te kenne.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button