Goeiehoek Kontreimark – Kom kuier op 1 Mei op die plaas!
Heerlike fyngebak en ander plaasprodukte soos kaas, heuning, groente en egte boerseep is van die artikels wat by die Goeiehoek Kontreimark gekoop sal kan word.

Kom kuier op 1 Mei by Goeiehoek Kontreimark! Die eerste Goeiehoek Kontreimark van 2021 spring op 1 Mei met ‘n lied in die hart weg! Dié gewilde boeremark op die plaas Bosrand, so 12 kilometer vanaf Four Way Motors in Drie Riviere, beloof om weer besoekers van heinde en verre te lok.
Buiten vir die 150 stalletjies met opwindende, unieke handelsware, borg Mobil dié keer ook ‘n aantal groot pryse wat in trekkings gewen kan word. Volgens die organiseerder, Annatjie du Toit, is hier sommer baie waarna besoekers kan uitsien.
“Tuisgebak – en hier is ‘n groot verskeidenheid – bly koning as dit by smaak kom. Met ‘n geseënde seisoen agter die rug gaan hier konfyt van elke geur en kleur asook die heerlikste ingemaakte groente, souse, piekels en blatjang wees om die spensrakke mee vol te pak vir die winter wat voorlê. Plaasvars hoenders, tuisgemaakte deli-produkte, kaas, heuning, biltong….ag te veel om op te noem!” sê sy.
Daar gaan ook klere vir elke grootte en smaak wees, sowel as pragtige hand-, hout- en staalwerk. Dan is daar ook ‘n verskeidenheid plante en vars of gedroogte groente en vrugte. “In kort, dit wat jy soek gaan jy by hierdie plaasmark vind! Maak dit ‘n uitstappie saam met familie en vriende en kom koop, kuier, en eet na hartelus. Moenie vergeet om die kleingoed te bring vir ‘n lekker rit op ou Poon se rug nie – dit maak hulle dag baie spesiaal,” nooi Annatjie.
Die bekroonde TNT-orkes gaan vir heerlike musiek sorg en hul CD’s sal ook hier te koop wees. Die bloedbank se mobiele eenheid gaan ook weer teenwoordig wees en hoop dat ‘n rekordgetal skenkers hulle gaan kom ondersteun.
Die goue reëls vir die dag is om gemaklike stapskoene aan te trek en genoeg tyd opsy te sit om al 150 stalletjies te besoek, bring genoeg kontant vir inkopies aangesien daar nie OTM-fasiliteite op die plaas is nie), kom met ‘n leë maag en bring koelhouers om gevriesde inkopies sonder skade huis toe te neem. Ter wille van almal se veilligheid sal daar streng by die Covid-protokol gehou word. Skakel Annatjie by 083 541 9908 vir meer inligting oor die markdag.
*********************************************************************************************
