EntertainmentNews

Lenige langbeen uit die Vaaldriehoek betower Hollywood

Juliet Prowse is een van die Vaaldriehoek se legendes wat vermelding kry in Vaalweekblad se 55 Jaar Herdenkingsboek, Legendes en ellendes uit die Vaal, wat tans te koop is.

Juliet Prowse, ’n wêreldbekende vermaaklikheid-ster wat in die Vaaldriehoek grootgeword het, het vanaf die 1960’s tot 1980’s groot hoogtes as danseres en aktrise in Europa en Hollywood bereik.

Juliet is op 25 September 1936 in die destydse Bombaai, Indië gebore maar het as kleuter saam met haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer waar hulle in Vereeniging kom woon het. Sy het van kleins-af besondere danstalent getoon en vanaf die ouderdom van vier jaar reeds by ‘n bekende dans- en balletskool onderrig ontvang. Op die ouderdom van 14 jaar, as leerling van Selbourne School in Vereeniging, het sy haar buiging in ‘n prestige-balletfees in Johannesburg gemaak en in produksies soos Swan Lake, Coppélia en Les Sylphides gedans. Sy is op die brose ouderdom van 17 jaar Londen toe in die hoop om ‘n loopbaan in klassieke ballet te volg.

Juliet het later jare, tydens een van haar talle besoeke aan die Vaaldriehoek, aan Vaalweekblad gesê dit was die grootste teleurstelling van haar lewe toe sy weens haar lengte van 5’8” (1,75m) as ballerina afgekeur is deur die London Festival Ballet.

Haar paaie het later jare in Amerika gekruis met bekende akteurs soos Elvis Presley en sy het ook ‘n rol teenoor hom gespeel in die baie suksesvolle rolprent “GI Blues”.
Na haar omswerwinge in onder andere Londen en Italië en ‘n paar kleiner rolle in verskeie films, het sy in 1965 na Suid-Afrika teruggekeer vir ‘n rol in Jamie Uys se wêreldtreffer, “Dingaka”. Sy is in 1969 terug na Londen waar sy onder meer in televisieproduksies opgetree het saam met Frank Sinatra, met wie sy ook ‘n romantiese verbintenis gehad het. Sy het teenoor Rock Hudson gespeel in “I Do! I Do!” en is weer eens geprys vir haar uitstekende danstalent.

Sy is later met John McCook van The Bold and the Beautiful-faam getroud. Hulle het een seun, Seth, gehad wat vandag ook by rolprentvervaardiging in Hollywood betrokke is.
Haar lewensreis het geëindig toe sy op 14 September 1996, op die ouderdom van 59 jaar, aan pankreaskanker gesterf het.

Sy is destyds deur haar ma, mev. Phyllis Polte van Vanderbijlpark, en haar broer. dr. Clive Prowse, destyds ‘n internis in Sasolburg, oorleef.
* Juliet is een van die Vaaldriehoek se legendes wat vermelding kry in Vaalweekblad se 55 Jaar Herdenkingsboek, Legendes en ellendes uit die Vaal, wat tans te koop is. Die boek kos R350 en sluit aflewering in die Vaaldriehoek in. Skakel gerus of stuur ‘n selfoonboodskap met die woord BOEK, jou naam en adres na Retha by 083 246 0523 of Nicky by 083 744 7711 as jy ‘n boek wil bestel.

Hooffoto: Juliet Prowse is hier deur Vaalweekblad afgeneem tydens een van haar vele besoeke aan haar familie in die Vaaldriehoek. Inlas: ‘n Toneel uit die fliek Gi-Blues saam met Elvis Presley.

****************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button