KI-kunstenaar van Vanderbijlpark begin naam maak
Kunsmatige Intelligensie het dit vir DeeMusic777 moontlik gemaak om haar woorde om te skakel in ’n tasbare, emosionele ervaring waarmee mense kan identifiseer.
VANDERBIJLPARK – Van kleins af het sy ’n diep liefde vir musiek gekoester, van die Beatles tot klassieke meesterstukke. Sy was ook nog altyd lief daarvoor om gedigte te skryf.
Sy het selfs so bietjie gesing toe sy jonger was, maar slegs met behulp van so bietjie “liquid courage.”
Nou spog Delia Emmerick, ook bekend as DeeMusic777, met 24 liedjies en twee albums op sosiale media.
Sy is een van die opkomende KI-kunstenaars (kunsmatige intelligensie) in Suid-Afrika, en haar nuutste vrystelling, Here dis ek, lok reeds wye belangstelling.
“Ek skryf van jongs af gedigte en liedjies, maar het dit net met familie en vriende gedeel. Ek het egter nooit gedink ek sou my gedigte kon laat lewe presies soos ek dit in my kop gehoor het nie,” vertel Delia.

KI keer die musiekwêreld op sy kop
“Ek het vroeg in 2025 van Suno gehoor, die app wat ek tans gebruik. Ek het my eerste Afrikaanse liedjie, Ons Is Te Donker, geskep om te toets hoe dit werk. Ek het vir so twee dae rondgespeel om presies die regte gevoel te kry.
“Toe ek uiteindelik die regte stem en musiek by die woorde kry, was ek so emosioneel. Dit was presies wat ek vir daardie liedjie wou hê,” sê sy.
KI het splinternuwe deure vir haar oopgemaak, en haar musiek is tans op verskeie groot platforms soos Spotify, YouTube Music, Apple Music en iHeartRadio beskikbaar. Delia adverteer ook op TikTok, waar sy puik terugvoering kry.
“Omdat my musiek so ’n wye spektrum dek – van Afrikaans tot Engels, en van dansmusiek tot aanbidding (worship) – dink ek mense van alle ouderdomme en agtergronde kan iets vind waarvan hulle hou.”
Om ’n persoonlike gunsteling te kies, is vir Delia ’n uitdaging, maar Ons Is Te Donker en Here Dis Ek staan uit as haar gunsteling-Afrikaanse snitte, terwyl Holy Fire haar en talle aanhangers se gunsteling in Engels is.
Buiten haar musiek is Delia ’n voltydse werknemer by ’n myntoebehorebesigheid in Germiston.
In haar vrye tyd skryf sy steeds liedjies vir troues, verjaarsdae, vrygeselpartytjies en selfs korporatiewe jingles vir groter firmas.
Sy span ook haar kreatiewe vaardighede in vir haar eie onderneming, Ripped, wat gepersonaliseerde T-hemde maak.
Sy skep ook tekstuur-kopstukke (textured art headboards) op bestelling.
