Sonlandpark-slaghuis maak toe “Johannesburg se beste biltong”!
Johannesburg se beste biltong word in die slaghuis van ’n supermark in Sonlandpark gemaak!
VEREENIGING. – Die Centre Save Supermark op die hoek van Majubastraat en George Stowestraat in Sonlandpark het nou die reg om daarmee te spog dat hulle “Die Beste Biltong in Johannesburg” maak!

Hulle het ook ’n trofee om dit te bewys!
Die Centre Save Supermark is Woensdagoggend deur die radiostasie 947 aangewys as die wenner in hul “Beste Biltong in Johannesburg” kompetisie!
Die klein slaghuisie het meegeding teen 2 300 benoemde slaghuise in die Johannesburg-omgewing en het finaliste soos die gedugte Impala Meat Centre (Northcliff), Slekker Biltong (Alberton), Pollock’s Produce (Vleikop) en Bull & Bush Meat Merchants (Linbro Park) in die eindronde van die kompetisie uitgestof.

Die kompetisie het op die program Anele and the Club on 947 plaasgevind. Luisteraars kon sedert 7 April per SMS hul keuse vir “Beste Biltong in Johannesburg” deurgee en dit is op hierdie wyse wat die Centre Save Supermark se biltong genomineer is.
Die sanger, Kurt Darren, komediant, Schalk Bezuidenhout en ‘n luisteraar, Daryn Jack het vanoggend die finaliste se biltong geproe en die Centre Save Supermark as die wenner aangewys.

Johnny Paraskevopoulos, eienaar van die slaghuis, het Woensdag aan Vaalweekblad gesê hy is steeds uit die veld geslaan.
“Ons het laasweek ’n foonoproep ontvang waarin ons meegedeel is dat ons vir die kompetisie ingeskryf is. Ons het nie eers daarvan geweet nie. Ons is ook nie seker wie ons benoem het nie,” vertel hy.
“Ons het aanvanklik gedog dit is Darren “Whackhead” Simpson wat die gek met ons skeer maar toe wys by broer, Costa, vir my dat ons ook ‘n e-pos van 947 ontvang het.
“Op Donderdag het ons vir hulle biltong geneem sodat hulle kan proe. Ons het teen groot honde deelgeneem en na die eindronte deurgedring. En toe hoor ons Woensdagoggend dat ons gewen het. Dit is soos ’n droom wat waar geword het,” vertel hy.

Johnny, wat die supermark en slaghuis al meer as 33 jaar besit, sê hulle het eers die biltongresep sowat 8 jaar gelede vervolmaak.
“My broer, Costa, is die jagter. Ek kon nooit wildsvleis eet nie. Ek het voorgestel dat ons met nuwe speserye en geursel vorendag kom om die wildsvleis beter te laat proe,” vertel hy.
Volgens Johnny is dit hoe hul geheime resep gebore is. Hy wou nie verklap wat hierdie geheim is nie maar sê jy kan vir seker weet dat daar ’n “Griekse invloed” is.

Die slegte nuus vir inwoners van die Vaaldriehoek is dat Centre Save Supermark se voorraad van droë biltong ongelukkig vanoggend heeltemal uitverkoop het nadat die nuus dat hulle die beste biltong in die ganse Johannesburg-omgewing maak gebreek het.
Volgens Johnny is hulle reeds besig om meer biltong voor te berei.
Hulle dink ook daaraan om die slaghuis te vergroot om tred te hou met die groeiende aanvraag .
Gebruik hierdie skakel vir die video:
https://www.facebook.com/947Joburg/videos/1777609549085939/
