EntertainmentNews

Carlo Leone ‘gee jou sy alles’ op nuwe CD

Carlo het in die verlede reeds ‘n Sarie-benoeming en verskeie SA Country Melodie-toekennings ontvang, en is ‘n paar jaar gelede as een van RSG se Top 100 Afrikaanse sangers aangewys

VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoekse sanger, Carlo Leone, wat sy landwye bewonderaars reeds dekades lank met sy Country-stem en hartlike persoonlikheid betower, het pas sy jongste CD, Ek gee jou alles, by Sharky Town bekendgestel.

Met 22 liedjies wat elkeen goed gekies is om perfek by sy stem en persoonlikheid te pas, gaan dié CD sy aanhangers beslis nie teleurstel nie. Dit spring weg met die titelsnit, wat hoendervleismooi deur Carlo vertolk word. Sy weergawes van I’m a Believer, Somewhere between, Walk softly on this heart of mine en Dear Mandy verdien ook spesiale vermelding. Sy vertolking van bekende nommers soos Cotton Fields en Blue Train raak ook mens se hartsnare aan.

Luister gerus ook na Joleen, ‘n Duitse liedjie deur Wolken Frei, waarvoor Carlo die Afrikaanse lirieke self geskryf het.

Carlo het in die verlede reeds ‘n Sarie-benoeming en verskeie SA Country Melodie-toekennings ontvang, en is ‘n paar jaar gelede as een van RSG se Top 100 Afrikaanse sangers aangewys. Hy is in 2019 ook deur die hoogs gerespekteerde SA Country Music Artist Foundation (SACMAF) met ‘n gesogte toekenning vereer.

Sy musiekloopbaan het in standerd ses aan die Hoërskool Vanderbijlpark begin toe hy by die skool se groentjiekonsert moes optree. Sy vriend, Eddie Wilson wat kitaar gespeel het, moes hom baie vinnig die ‘basics’ van ‘n liedjie leer en dis waar die musiekgogga hom gebyt en nooit weer laat los het nie, sê Carlo. Hulle het later ‘n skoolorkes, ‘The Vultures’, gestig en gereeld by skoolpartytjies opgetree.

Na skool wou Carlo ‘n professionele musikant word maar sy pa, ‘n stoere Italianer wat met ‘n Afrikaanse nooi getrou het, het daarop aangedring dat hy eers ‘n ambag moes voltooi. Na musiek was fisika sy tweede liefde (hy kon spog met onderskeidings in fisika en wiskunde in matriek!) en het hy as vakleerling in instrumentwerktuigkunde by Yskor in Vanderbijlpark begin werk. Hy moes sy musiek jare lank opsy skuif om sy volle aandag aan sy loopbaan te gee, maar musiek was altyd ‘n geliefde stokperdjie.

Tussendeur was daar darem tyd om as direkte voorprogram-kunstenaar vir die radio-legendes Dana Niehaus en Fanus Rautenbach op hul toere op te tree. “Die ironie was dat ‘n Vaaldriehoekse sanger wat toe nog onbekend was, Bles Bridges, daardie tyd saam met ons getoer het!” onthou Carlo. Deur die jare het Carlo op menige Country-vertonings saam met sterre soos Lance James, Clive Bruce, Kenny Oliver, Tommy Oliver, Billy Forrest, Tommy Dell, Barbara Ray, Joanna Field, Gene Rockwell, Caroline en Vicky du Preez, Vangie Coker, Bobby Louw, Bobby Angel, Jody Wayne en Sally Vaughn opgetree.

Na 32 jaar diens by die destydse Yskor het Carlo as bestuurder: Ingenieurstegnologie afgetree en kon musiek weer voorkeur in sy lewe kry.

Hy het reeds verskeie CD’s die lig laat sien, waarvan verskeie liedjies ereposisies op die SA Country Top 10 en die Top 20 treffersparades van IFM 102.2 behaal het. Tans bedryf hy sy eie opname-ateljee, CBL Productions, in Vanderbijlpark.

* Stuur ‘n WhatsApp of SMS na 082 904 9597 om ‘n CD te bestel of vir ‘n optrede te bespreek.

*************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button