EntertainmentLocal newsNewsNews

Benny Janssen van skeepskelner tot swemafrigter

Hy moes net tydelik uithelp, nou is dit sy hele lewe.

Benny Janssen het 17 jaar gelede ingestem om tydelik uit te help as swemafrigter. Vir twee weke.

Vandag erken hy daar is niks anders wat hy wil doen nie. “Dit is my roeping. Ek doen alles uit geloof en met die genade van God,” sê hy.

Benny se pa is oorspronklik van Nederland en sy Ma van die Verenigde Koninkryk, maar hy is gebore en getoë in Sasolburg.

Vir sy vrou, Gerda, wat ondanks gesondheidsprobleme haar passie as onderwyseres by die Eureka Skool uitleef, het hy baie liefde en respek.

Die Janssens is lief vir fiets ry en het al saam wedrenne aangepak.

Benny Janssen is ‘n swemafrigter van formaat. Foto: Verskaf

Oor die kinders wat hy afrig, hetsy die beginners of sy gala swemmers, praat hy met deernis en trots.

Die groot man se oë blink van trane as hy vertel van die 3-jarige wat so bang was vir water. Die kind het met elke les gehuil.

Onlangs het die kleuter homself per ongeluk van die kant af weggestamp in plaas daarvan om die kant raak te vat.

“Ek het dit gesien gebeur en het asem opgehou. Die volgende oomblik het hy op sy rug gedraai soos wat ek hom geleer het en kalm vir my gewag.

“Ek was dadelik by hom en het hom net geprys omdat hy onthou het wat om te doen.

“Ai, en toe hy huis toe gaan toe sê hy: “Ek gaan nie weer huil as ek moet kom vir my swemles nie, Oom Benny”, vertel Benny aangedaan.

Voordat Benny hom op swemafrigting toegespits het, was hy op ‘n stadium ‘n lewensredder en lewensredder-afrigter.

Sy grootste avontuur was egter toe hy op 30 besluit het om op die skepe as kelner te gaan werk.

Hy het in drie jaar die lande in die Balkan en die Karibiese Eilande leer ken en was so ver noord as Alaska.

“Ek was eendag amper laat vir die skip omdat daar ‘n swart beer in die straat geloop het,” vertel hy en lag lekker.

Hy is nie spyt sy dae op die skepe is verby nie, daarvoor geniet hy sy werk as swemafrigter te veel.

“Swem is nie ‘n maklike sport nie. Die kinders kry saam swaar en hul oefen hard, maar hulle leer ook volharding.

“Swem het my geleer hoe om die goeie en die slegte kant van die lewe te hanteer. Ek doen my bes en ek kan sien hoe die kinders groei en verander.

“Hierdie jaar moet hul nog harder werk, want hul moes in ‘n baie kort tydperk gala fiks word.

“Hulle doen so goed. Almal se tye het verbeter. Ons sal daarop voortbou,” glimlag hy trots.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button