Entertainment

Covid-19 eis dryfkrag agter Vaalskou

Mnr. Tielman Roos (83), ’n bekende inwoner wat diep spore in die Vaaldriehoek getrap het, is op Vrydag 13 Augustus aan Covid-19 verwante oorsake oorlede.

MEYERTON. – Vriende en familie het hom op Vrydag 20 Augustus tydens ’n gedenkdiens by AGS Doxa Theos in Meyerton Oos gegroet.

Weens Covid-regulasies was die geleentheid tot slegs 50 mense beperk.

Roos sou op 11 September sy 84ste verjaarsdag gevier het.

Volgens sy skoondogter Marisel het hy begin siek word net voor die langnaweek rondom Vroudedag (9 Augustus) nadat by ’n familielid aangesteek het.

Hy is op Maandag 9 Augustus gehospitaliseer.

‘n Veel jonger Tielman Roos. Foto: Verskaf

Roos sal veral onthou word vir sy betrokkenheid by die Vaalskou. Hy was vir lank die dryfkrag agter die skou en was vir ’n totaal van 22 jaar betrokke by die skou.

Hiervan het hy ongeveer 18 jaar as die skou se president gedien het.

Hy was ook ’n stigter van die gemeenskapsradiostasie VCR (Vaal Community Radio).

Die stasie se kantoor was aanvanklik by die skouterrein geleë. Roos se seun Jacques, onthou hom as iemand wat lief was vir die Here en gestreef het om dit uit te leef.

“Hy was mensliewend, geliefd, hardwerkend, pligsgetrou en gasvryheid was deel van sy menswees. Sy word was sy eer.

“Waar dit by besigheid gekom het was hy professioneel, tog streng, maar baie diplomaties.

“As dit by sy familie gekom het was elkeen vir hom uniek en spesiaal.

“Hy sou gereeld sê ‘Kom sit by my en vertel my hoe dit gaan’.

“Sy nuuskierigheid en ondersoekende geaardheid het hom baie wysheid in die sak gebring en sy insig en kennis het mense geïnspireer,” onthou sy familie.

Tielman Roos. Foto: Verskaf

Roos is op 11 September 1937 in Vereeniging gebore en was een van Koos en Johanna Roos se vyf kinders. Hy en sy broers en susters, Hester, Koekie en die tweeling Kobus en Lilla het in Roodstuine grootgeword.

Roos het aan Laerskool Roodstuine en Hoêrskool Vereeniging skoolgegaan.

Ná skool is hy weermag toe.

Hy het daarna sy ambag gedoen en hom as meesterbouer gekwalifiseer.

Hy het aanvanklik sy loopbaan (vakleerlingskap) by USCO begin.

Daarna het hy sy eie besigheid as boukontrakteur (Walldorf Konstruksie) tot stand gebring.

Hy het in ’n stadium ook vuurvaste oonde in Mosambiek gebou. Volgens sy seun Jacques was hy ook baie lief vir boer.

Hy het ‘n melkboerdery gehad.

“Dit het later oorgeskakel in kommersiële boerdery en het vir jare lank vars melk direk vanaf die plaas in Meyerton verkoop.

Later jare het hy die Plaaskombuis Tuisnywerheid & Melkery begin as afsetpunt vir die melk.

“Tussendeur was hy besig met die Vaalskou en ander besighede,” vertel Jacques. In 1997 het hy die Plaaskombuis Gastehuis begin, wat vandag nog deur sy seun Jacques bedryf word.

Roos word oorleef deur sy vrou Lettie Roos, sy kinders Jacques en Karin en hulle eggenote, asook 4 klein kinders & 3 agter kleinkinders.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button