Wees by die VellieFees van 2 tot 4 Junie!
Kaartjies vir die fees kan ook vooraf op Computicket bespreek word.

HEIDELBERG. – Hier wag ‘n ongekende fees op die landbouer, die kultuurvraat en Jan-alleman in Heidelberg! Die Vellie-fees word op 2, 3 en 4 Junie aangebied en gaan jou pas soos ‘n gemaklike paar vellies! Hoewel daar baie te sien gaan wees vir die boer, soos diere, landbou-implemente en boerderytegnieke, wag daar ook groot pret op alle stadsjapies, vroue, tieners en die kleinspan. Met meer as 100 uitstallers, heerlike kos, drinkgoed, kultuur en lewendige vermaak deur bekende kunstenaars, kan jy jou maar regmaak vir drie dae van groot genot!
Die sentrale kuierplek gaan bedien word deur meer as 36 kombuise, top wynplase en talle “craft”-bier en gin-brouers. Plaaslike besighede en vervaardigers het ook ‘n gulde geleentheid om hulself in die kollig te plaas deur uit te stal in die Heidelberg “brag-saal”. ʼn Hoogtepunt tydens VellieFees 2022 is die “Vellie-Got-Talent”-wedstryd wat in die Baal-arena aangebied gaan word. Kom toon gerus jou talent en slaan groot pryse los!
Die organiseerders was reeds betrokke by die reëlings van vele feeste soos die onlangse Heidelberg Great Train Race, die 2019 Oktober Bierfees, 2016 Tydren Kampioenskappe en Die Gariepfees.
Die ryk geskiedenis en erfenis van Heidelberg lok reeds vele voete na die omgewing en daar word verwag dat VellieFees ‘n ikoniese geleentheid met ‘n unieke karakter in Heidelberg gaan word. Alle Vaaldriehoekers word in besonder uitgenooi om te kom kennis maak met die sjarme en hartlikheid van Heidelberg se mense!
Op Donderdag, 2 Junie, kan vroue uitsien na ‘n kunsuitstalling deur Veronica Olivier en ander plaaslike kunstenaars, ‘n “Moonshine & Glitter” gin-proe, ‘n Persiese tapytveiling en om 15:00 gaan Frank Opperman oud en jonk vermaak.
Vir die manne is daar ‘n alle-rasse stoetbulvertoning- en veiling, ‘n drone-demonstrasie, verskeie megniese opsies vir jou boerdery, en maksimale voeroplossings en veldbestuur.
Vrydagaand is dit sanger Appel se beurt om gaste op sy lekkerluister-liedjies te trakteer.
Besoek “Velliefees Heidelberg” by https://www.facebook.com/search/top?q=velliefees%20heidelberg vir volledige inligting. Kaartjies vir die fees kan vooraf op Computicket bespreek word.


****************************************************************************************
