Midvaal-brande: Diere en weiding bly in die slag
Veldbrande het die afgelope paar dae groot skade in die Midvaal-omgewing aangerig met alles van diere tot weiding wat in die slag gebly het.
MIDVAAL. – Volgens Jenny Self, ‘n skakelbeampte vir die gemeenskap van Drumblade, woed brande al sedert vroeër vandeesweek van Eikenhof, suid van Johannesburg, tot in die omgewing van Drumblade/Walkerville.
“Diere is vasgekeer en het lewendig verbrand. Baie diere moes uitgesit word. Vee is sonder weiding gelaat nadat dit ook afgebrand het,” vertel Self.
Volgens Self is daar ook mense wat hul huise verloor het.
Self het die gemeenskap, die gemeenskapspolisiëringsforum en brandbestryders wat saamgestaan het om brande te bestry bedank vir hulle hulp.
“Dit was ongelooflik. Mense het uit hulle pad gegaan, hulle lewens gewaag en baie tyd spandeer om brande te blus. Ander het gehelp en kos en koeldrank vir die brandbestryders gebring. Die gemeenskap was ongelooflik.”
Mense wat kan help met voer, klere, en nie-bederfbare kos kan Self by 078 056 4482 skakel.






