News

DA troef ANC in Emfuleni

Die DA is die grootste party in Emfuleni en behou beheer oor Midvaal, terwyl die ANC die DA-net-net in Metsimaholo klop. Intussen eis die MK-party ’n herverkiesing weens beweerde ongerymdhede.

VANDERBIJLPARK – Die DA het die ANC in Emfuleni ore aangesit en met 40,9% van die stemme as die grootste party uit die plaaslike regeringsverkiesing getree. Die MK-party eis intussen ’n herverkiesing weens beweerde ongerymdhede met stembriefgetalle en die hantering van spesiale stemme.

Volgens die uitslae het die DA 157 397 stemme oor die wyks- en proporsionele stembriewe saam ontvang en 37 setels in die munisipale raad verower. Die ANC het 92 166 stemme, oftewel 23,95%, en 22 setels gekry.

Die EFF het met 6,11% en ses setels derde geëindig, gevolg deur ActionSA met 5,85% en die VF Plus met 5,61%. Albei laasgenoemde partye het vyf setels verower. Die MK-party het met 4,25% vier setels gekry.

Hoewel die DA die grootste party is, het hy nie genoeg setels om Emfuleni alleen te regeer nie. Die party sal ander raadslede se steun moet bekom om ’n meerderheid te verseker.

’n MK-partyverteenwoordiger het in ’n onderhoud met Newzroom Afrika beweer dat stembriefgetalle by sommige stemlokale tussen stemdae verander het.

Volgens hom was daar in een geval aanvanklik 50 stembriewe in ’n stembus, maar het dié getal die volgende dag tot 180 gestyg. Hy het ook beweer dat syfers van die verskillende stemdae nie met mekaar ooreengestem het nie.

Die verteenwoordiger het voorts beweer dat partyagente in sommige gevalle verhinder is om amptenare van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) tydens spesiale stemme op huisbesoeke te vergesel. Volgens hom het sommige OVK-amptenare die agente swak behandel en hul werksaamhede beperk.

Hy het gesê die party het besware ingedien en eis ’n herverkiesing in die hele Gauteng. Toe hy gevra is of die OVK reeds op die besware gereageer het, het hy gesê hy wag op terugvoer van sy streeksekretaris, wat dit ingedien het.

OVK-voorsitter Mosotho Moepya het volgens SAnews gesê die kommissie het teen 15:00 op Saterdag 7 November landwyd 197 formele besware ontvang. Daarvan is 54 van die hand gewys, agt teruggetrek en twee gehandhaaf. Die oorblywende besware was in daardie stadium nog onder oorweging.

Moepya het verduidelik dat die OVK ’n beswaar voor of ná die amptelike verklaring van uitslae kan handhaaf. Waar ’n beswaar ná die verklaring gehandhaaf word, kan die uitslag gewysig of die saak na die Verkiesingshof verwys word indien die beweerde ongerymdhede ernstig genoeg is om die tersydestelling van ’n verkiesing te regverdig. SAnews

In Midvaal het die DA sy oorheersing voortgesit en met 61,92% van die stemme ’n volstrekte meerderheid behaal. Die party het 19 setels verower, teenoor die ANC se vyf en die VF Plus se twee.

Die ANC het 16,07% van die stemme ontvang en die VF Plus 7,65%. Die EFF, MK-party, ActionSA en Transformative Yes Movement het elk een setel gekry.

Midvaal is daarmee die enigste van die drie Vaalmunisipaliteite waar ’n party genoeg setels het om sonder koalisievennote te regeer.

In Metsimaholo, wat Sasolburg insluit, was die stryd tussen die ANC en DA besonder naelskraaps. Die ANC het met 27,66% eerste geëindig, teenoor die DA se 27,45%.

Slegs 236 stemme het die twee partye se gesamentlike wyks- en proporsionele stemtotale geskei. Die ANC het 30 533 stemme en 17 setels ontvang, terwyl die DA 30 297 stemme en 11 setels gekry het.

Die EFF het met 11,78% vyf setels verower, gevolg deur die SMM met 11,19% en ook vyf setels. Die VF Plus het met 7,6% drie setels gekry.

Geen party het ’n volstrekte meerderheid in Metsimaholo behaal nie. Samewerking tussen partye sal dus nodig wees om die munisipaliteit te regeer.

Die OVK het die plaaslike regeringsverkiesing van 2026 vry en regverdig verklaar. Moepya het die aankondiging Sondagaand, 8 November, by die Nasionale Verkiesingsuitslae-operasiesentrum in Midrand gedoen.

Die nasionale uitslagopsomming dui aan dat sowat 15,28 miljoen kiesers gestem het. Die ANC het landwyd die grootste party gebly. Moepya het bevestig dat die samestelling van al 213 munisipale rade afgehandel is en die uitslae amptelik verklaar is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button