‘n Sportdag wat aan hartsnare pluk
Ten spyte van die koue wind, het atlete en toeskouers Eureka se jaarlikse sportdag baie geniet. Lees meer...
VEREENIGING. – Eurekaskool se Spesiale Sportdag is weer 25 Augustus met groot sukes aangebied.
Skole vir leerders met fisiese en verstandelike gestremdhede het van so ver as Welkom en Johannesburg gekom om aan die jaarlikse byeenkoms deel te neem.
Alhoewel die wind onplesierig koud gewaai het, het dit geen afbreuk gedoen aan die entoesiasme van die leerders of hul ondersteuners nie.

Almal het geleentheid gehad om aan ‘n verskeidenheid items deel te neem, van stap tot by rolstoelresies, naellope en kruip.
Dan was daar ook ‘n geleentheid om netbaldoele te gooi, ‘n sokkerdoel te skop en ‘n bal met ‘n bofbalkolf te slaan.
Vrywilligers van die NWU en Transvalia het saam met hul mascots oral uitgehelp en aan die pret deelgeneem.
Die oorgawe waarmee die leerders aan elke item deelgeneem het, het aan hartsnare geraak.
Nie dat almal mooi verstaan het presies hoe dinge werk nie. In een van die 100 m naellope het ‘n jongeling wat voor gehardloop het, halfpad skielik omgespring en weer voluit terug na die beginpunt gehardloop.
Van die dogters met Down Sindroom was baie opgewonde toe die NWU se Eagie besluit om saam met hul weg te spring en heel laaste gekom het.

By die velditems was die vreugde groot wanneer ‘n bal raakgeslaan, geskop of in ‘n ring beland het. Elke deelnemer is ook met ‘n medalje beloon.
Oral het familielede met kameras geloop om die jongspan se prestasie af te neem.
Onder die tent afdakke het die onderwysers hul hande vol gehad om almal betyds op die regte plek te kry. Knap gedaan aan Eureka se personeel wat hulself weer oortref het.
