Vaaldriehoek is ryk aan kunstalent
Die Vaal het 'n lewendige kunsgemeenskap wat mekaar wedersyds inspireer.
MEYERTON. – Wanneer ’n mens aan die Vaaldriehoek dink word beelde van nywerhede sowel as staal- en petrochemiese vervaardigingsaanlegte en die oewers van die Vaalrivier waarskynlik by meeste mense opgetower.
Die gebied is ook verbasend ryk aan talent en die tuiste van ’n lewendige kunsgemeenskap wat wedersydse inspirasie uit mekaar se skeppings put.
Die werk van drie plaaslike kunstenaars, Barbara Hopley, Esté Nienaber en Marleze Biffi is in Oktober (6 Oktober 2023 tot 27 Oktober) by die Ligkuns Galery in Meyerton onder die vaandel van “Nature” uitgestal.
Al drie die kunstenaars is in die Vaaldriehoek gebasseer.

Hopley, waarskynlik die mees ervare en bekendste van die kunstenaars, is in Zimbabwe gebore en het kuns aan Rhodes Universiteit studeer. Sy bly deesdae in Drie Riviere en bedryf ‘n private ateljee van haar huis af, waar sy kinders en volwassenes meer van kuns leer.
Esté, wat in Pretoria gebore is, in Port Elizabeth gematrikuleer het en Inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria studeer het, het voorheen Grafiese Ontwerp by die Vaal Universiteit van Tegnologie aangebied.
Sy het later na beeldende kunste beweeg.
Sy sê: “Ek is mal daaroor om inspirasie uit die natuur rondom my te vind, en werk dikwels van my eie foto’s af van plekke waar ek was en voorwerpe wat ‘n mens maklik sou miskyk. Vanuit ‘n ontwerpagtergrond fokus ek op detail. Ek geniet dit om in olie of akriel te werk vir groter skilderye en waterverf met pen of potlood vir kleiner werke.”

Marleze, wat in Bloemfontein gebore is, in Meyerton gematrikuleer het en later ‘n diploma in kuns aan die Vaaldriehoek Tegnikon se kunsskool behaal het, was al by baie projekte saam met ander kunstenaars betrokke en het aan groep-uitstallings deelgeneem terwyl sy haar twee kinders grootgemaak het.
Sy sê sy is obsessief oor die natuur en dat dit haar daaglikse inspirasie is.
Die Ligkuns Galery dien as ‘n voertuig om die fyner kunste in die Vaaldriehoek te bevorder en om ‘n platvorm te bied waar kunstenaars se werke aan die publiek bekend gestel kan word.
Die volgende uitstalling by Ligkuns Galery is die uitstalling van Donna Mac Farlane se werke.
Die uitstalling word op Vrydag 10 November om 17:30 geopen.
Die Ligkuns Galery is by 57 Lochstraat in Meyerton geleë. Skakel 064 534-6143 of stuur ‘n e-pos aan artstudio@ligkuns.co.za om te bespreek vir dié geleentheid.


