EntertainmentLocal newsNewsNews

Vryheid onder die water

Die Handicapped Scuba Crew span het onlangs vir van die leerders van die Eurekaskool vir leerders met fisies en verstandelike gestremdhede 'n skubaduik kursus aangebied. Lees meer...

VEREENIGING. – Leerders van die Eurekaskool en gestremde volwassenes van die Vaal het Donderdag, 23 November die ervaring van ‘n leeftyd gehad.

Wayne van Coller en sy span van Handicapped Scuba Crew het van Pretoria gereis om leerders en besoekers te leer skubaduik.

Reuben Snyman en Wayne van Coller van Handicapped Scuba Crew.

Die elf instrukteurs het hul hande vol gehad, want die opgewondenheid was groot. Voordat enige een egter in die swembad kon gaan, moes almal eers leer hoe werk die toerusting.

Daarna het elke leerder die geleentheid gekry om saam met ‘n instrukteur in die water te gaan. Eers is hul geleer hoe om die duikbril op te sit en toe hoe om deur die mondstuk asem te haal.

“Almal het dit baie geniet. Die een outjie wou net nie uitklim nie, ons moes later sy suurstofsilinder vervang,” het Wayne gelag.

Vir die mense met gestremdhede was die tyd onder die water ‘n besonderse ervaring. Hier kon hul vrylik beweeg en het hul geen pyn gehad nie.

Almal was dit eens dat hulle dit weer sal wil doen. Wayne sê sy span gaan landwyd na skole vir leerders met gestremdhede om die kinders die basiese beginsels van skubaduik te leer en hul hul eerste ervaring onder die water te gee.

“Handicapped Scuba Crew bestaan al vyf jaar. Ons het groot planne vir volgende jaar. Ons sal onder meer graag van die leerders wat die beste in die swembad vaar, na duikplekke soos Bass Lake buite Meyerton wil neem en later selfs see toe sodat hul kan gaan visse kyk.”

Dis duidelik dat elke duikinstrukteur ‘n sagte hart het vir persone met gestremdhede en ‘n passie het om skubaduik aan ‘n groter gehoor bekend te stel.

Elke voornemende duiker is met hope geduld en deernis benader saam met’ n goeie skoot humor om almal op hul gemak te stel.

Die hoof van Eurekaskool, Johan Erasmus het na die dag se opwinding sy dank teenoor die Handicapped Crew span, die skool se terapeute en Omega Spur van Vanderbijlpark, wat hamburgers aan al die betrokkenes geskenk het, uitgespreek.

Vir meer besonderhede oor skubaduik vir persone met gestremdhede besoek gerus die facebookblad, Handicapped Scuba Crew of skakel Wayne by 083 417 2860.

Back to top button