Entertainment

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Ek verbeel my ek is Mary Poppins met 'n sambreel in die reën en voer reëndanse in die stort uit omdat die geiser buitewerking was. Lees meer...

RUBRIEK. – Begin ons al weer die nuwe jaar in duisternis. Die straat is sedert 4 Januarie sonder krag. Wel, eintlik werk dit soos kersliggies.

Eers was almal af, want dit was beurtkrag. Toe is almal aan, vir ‘n halfuur. Daarna was ongeveer drie huise in duisternis gehul. Tot die volgende dag omstreeks 12:00.

Daar was lig in die straat, vir ‘n halfuur. Na baie navrae, rapportering en help asseblief boodskappe, was daar teen laataand lig. Dit was die Vrydag.

Saterdagoggend sak die duisternis weer neer. ‘n Hele span werkers betrek die straat. Grawe gate en karring by die groen krageenhede.

Daar word slote gegrawe op sypaadjies. Dit begin lyk soos die loopgrawe van die Eerste Wêreldoorlog.

Ek het na dag vier in die vrieskas geduik om die vleis te red. Ma het Pa se ou visvang gasbottel laat volmaak en ek het ywerig by kerslig begin water kook vir koffie en pogings tot kosmaak aangewend.

Intussen het dit begin reën. Lekker intrek reën en presies wat die Vaaldriehoek dringend nodig gehad het. Dis net… Kabels lê en water meng nie. Laat ons met slegs ‘n kerslig aan die einde van die tonnel.

Dink hoeka die reënweer is my skuld. Ek voer dan elke oggend iets wat baie na ‘n reëndans lyk onder die stort uit. Die geiser se water is koud en dis al wat ek gaan sê.

Woensdag was ek bly daar is nie videokameras in ons straat nie. Daar is ek by die huis uit met my skootrekenaarsak, my oorgroot werksak en kamerasak oor die skouer. Sambreel in die hand.

So ‘n pikante swart sambreeltjie. Almal by die werk het een. Die admin personeel het dit verlede jaar vir ons geskenk by die jaareindfunksie.

Maar, ek het nie ‘n ekstra hand oor om die nodige knoppie te druk om die motor oop te sluit nie. Eers neersit, oopsluit, inlaai, inklim. Die afdak bied so bietjie beskerming.

Ek stuur myse Ford Mich in trurat hekwaarts. Ek en sambreel wals die paar tree tot by die hek. Sambreel is in my linkerhand. Ek het die sleutels in my regterhand.

Dit reën. So staan ek en sukkel met die sleutels, totdat ek agterkom ek probeer die groot slot met die verkeerde sleutel oopsluit.

Hoeka half moeilik want ek is linkshandig en my linkerhand klou nog aan die sambreel. Uiteindelik is hek oop.

Teen die tyd wat Mich buite die hek staan en die hek weer gesluit is, is ek, my sambreel en die motor ewe nat.

Maar, dis ook ok. Ten minste het die reën die Hadida se kolskoot wat oor die naweek deur Mich se oop venster gestuur is afgewas. Maar, daardie storie gaan ek liewer nie oorvertel nie. Sela!

Ns. Die kontrakteurs het in die reën gewerk en die krag was teen Woensdagaand herstel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button