Totius groet hul Tannie Minnie
Minnie de Bruyn se loopbaan het oor meer as vier dekades gestrek. Sy het dit onlangs op 'n hoogtepunt afgesluit by die LS Totius.
VANDERBIJLPARK. – Minnie de Bruyn was vir 21 jaar deel van die lief en leed van Laerskool Totius.
20 Maart het sy amptelik afgetree na 42 jaar diens by verskeie skole. Amptelik was haar titel sekretaresse, maar sy was veel meer as dit.
Vir die kinders was sy die kantoor tannie wat drukkies uitgedeel en verstaan het.
Vir die onderwysers was sy raadgewer en vir die skool die een wat die lekkerste kos kon maak as daar ‘n funksie of onthaal gehou is.
Minnie erken sy gaan die skool, onderwysers en kinders baie mis, maar nadat sy onlangs ernstig siek was, wil sy meer tyd saam met haar kinders en kleinkinders spandeer.
“Ek geniet dit om te stap in die natuur en het my hele familie al aangesteek. My een seun en sy gesin woon in Swellendam, die ander in Heidelberg. Beide areas is so mooi om te gaan stap en dis lekker as die kleinkinders saamstap,” vertel sy met ‘n glimlag.
Desember wag daar ‘n groot lekkerte, want dan gaan sy weer by haar dogter en kleinkinders in Texas in die VSA kuier.
“Ek wil soveel moontlik tyd saam met my familie spandeer. Hul oupa-en-ouma dae en sportbyeenkomste bywoon. Ek het baie daarvan gemis omdat ek self by ‘n skool betrokke was.”
Dan staan haar kop ook Kleinmond toe. “Ek oorweeg dit om eers daar te huur vir so drie maande, net om te kyk of ek lekker sal bly,” glimlag sy.
“Ek bid dat die Here my sal spaar sodat ek ‘n tydjie van my aftrede kan geniet.”
