EntertainmentLocal newsNewsNews

CERT-SA sê dankie vir Midvaal-brandweer

‘n Klein ietsie om dankie te sê.

MEYERTON. – CERT-SA, ‘n nie-winsgewende organisasie wat uit vrywilligers bestaan en noodbystand- en reddingsdienste in die Vaaldriehoek lewer, doen die beste met die beperkte hulpbronne wat hulle het, maar steun ook gereeld op die Midvaal-brandweer vir ondersteuning by noodtonele.

Om die Midvaal-brandweer te bedank vir hul volgehoue hulp en ondersteuning by tonele – en vir die feit dat CERT-SA gereeld op die brandweer se knoppie kan druk wanneer hulp benodig word – het CERT-SA se Vaaldriehoekspan onlangs ‘n doek (“canvas”) met gedrukte foto’s aan die brandweer geskenk.

Die doek bevat die slagspreuk “niks behalwe die beste”, wat nogal heel gepas is aangesien die Midvaalbrandweer as een van die land se beste brandweerspanne geag word en beamptes van die stasie baie passievol is oor hul werk.

Die foto’s is deur Pierre Wheeler, ‘n plaaslike fotograaf en vrywilliger by CERT SA, geneem tydens ‘n onlangse noodoefening waartydens foto’s en videobeeldmateriaal ter bemarking van CERT SA verfilm is.

(Die brandweer het ook vir die doeleindes van die video en foto’s ‘n voertuig voorsien wat tydens ’n noodoefening met die lewenskake oopgesny is).

Cecil Parson, direkteur van CERTSA en operasionele bestuurder van die noodreaksiespan se Vaaldriehoek-tak het Woensdag, 3 April die A3-doek aan die Midvaal-brandweer se nagskofspan oorgandig om dankie te sê.

“Ons het vir julle ‘n klein ietsie gebring om dankie te sê. Dit is ‘n blyk van waardering vir dit wat julle vir die gemeenskap doen en vir die ondersteuning wat julle ons op tonele bied. Dit is net iets om julle elke dag te herinner waarom julle dit doen en waarom julle besluit het om brandbestryders te word,” het Parsons in ‘n kort toespraak aan beamptes van die Midvaalbrandweer se nagskofspan gesê.

Die doek sal in die brandweer se “saal van roem” (“hall of fame”) gehang word saam met ander koerantuitknipsels oor dié brandweer.

Cecil Parsons, direkteur van die noodreaksiespan CERT SA en operasionele bestuurder van die niewinsgewende organisasie se Vaaldriehoek-tak, verras die Midvaal-brandweer met ‘n spesiale geskenk. Parsons het tydens die geleentheid die Midvaal-brandweer bedank vir hul volgehoue hulp en bystand by noodtonele. Agter sy rug is die doek (“canvas”) met gedrukte foto’s op. Foto: Christiaan Cloete

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button