By die 60 ouskool BMX’e in ‘n ry
Dink aan 'n BMX en almal sien E.T op een op pad huis toe of onthou die dae wat hulself 'n BMX platgetrap het op stofpaaie of skool toe.
KEMPTONPARK – Dit was ‘n samekoms van BMX-fietse wat enige kind van die 80’s se hart sou laat vinniger klop.
Verlede Saterdag het BMX-entoesiaste van so ver as Kaapstad by die Kempton Park BMX klub byeengekom om te kyk wie se gerestoureerde, opgeboude BMX vat die groot prys.

Die dag is georganiseer deur Ivan Benn van Vanderbijlpark. Hy het drie van sy nuut gerestoureerde fietse op skou gehad.
Al drie was reeds verkoop en die nuwe eienaar het die fietse sommer by die skou opgelaai en huis toe geneem.
Daar was by die 60 BMX’e op skou en die beoordelaars het hul hande vol gehad om te bepaal watter fiets is die spog een vir 2024. Uiteindelik het Mnr. T Groenewald van Kaapstad met die louere weggestap.
Ivan restoureer al BMX’e oor verskeie jare en maak seker hy sit sy handtekening êrens op die fiets, want die meeste word net so vinnig verkoop as wat hulle klaargemaak word.

Nog ‘n Vaaldriehoeker met ‘n voorliefde vir ‘n mooi BMX uit die 80’s is Arthur Uys.
Hy is betrokke by die anodisering* van die BMXrame in so ver as moontlik die oorspronklike kleure, maar soms ook in ander kleure afhangend wat die kliënt wil hê.

“Die nasionale BMX Reünie word gewoonlik in die Kaap gehou, maar die jaar het ons op Gauteng besluit. Ek dink ons gaan dit volgende jaar weer hier bo hou. Dit was die meeste BMX’e wat ons nog bymekaar gehad het,” het Ivan gesê.
*Anodizing is ’n elektrochemiese proses wat gebruik word om ’n dikker oksiedlaag op die oppervlak van ’n metaal, meestal aluminium, te skep. Hierdie proses verbeter die korrosiebestandheid, verhoog die slytasieweerstand, en kan estetiese eienskappe toevoeg deur kleur aan te bring.
