EntertainmentNews

Gebreekte nek lei tot geliefde dok se dood

Sy het deur haar werk as dokter talle mense se lewens geraak.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING – Die gemeenskap van Drie Riviere treur oor die afsterwe van ‘n geliefde dokter en algemene praktisyn.

Bekend vir haar onwrikbare toewyding en deernis, het dr. Jeanne-Marie Rabie se werk die lewens van ontelbare pasiënte geraak.

Dr. Rabie is op 23 Februarie op 79-jarige ouderdom oorlede.

Dr. Jeanne-Marie Rabie was baie bekend en geliefd in die gemeenskap.

Volgens haar man, dr. Francois Malan, het sy die afgelope paar maande met haar gesondheid gesukkel nadat sy op 9 Desember by haar huis geval en onder meer haar nek gebreek het.

Sy was volgens Malan die laaste ses weke in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal.

Rabie en Malan werk al sedert 1981 in die Vaaldriehoek en is alombekend in die gemeenskap.

Die Midvaal-hospitaal, waar sy vir meer as twee dekades deel van die mediese span was, het hul diep hartseer in ‘n verklaring uitgespreek: “Met groot hartseer kondig ons die afsterwe van dr. JM Rabie aan.

“Dr. Jeanne-Marie Rabie was vir meer as 20 jaar deel van die Midvaal-familie en sy sal gemis word deur almal by Midvaalhospitaal.”

Die hospitaal het in ‘n Facebookhuldeblyk gesê: “Sy was passievol oor haar werk en het altyd haar pasiënte eerste gestel. Sy was ‘n vriendelike en deernisvolle persoon en ‘n toegewyde dokter wat ‘n verskil in baie mense se lewens gemaak het.”

Boodskappe van meegevoel van pasiënte, kollegas en gemeenskapslede het die afgelope week ingestroom.

Gary Immelman, ‘n bekende plaaslike sakeman en vriend, sê: “Ons gemeenskap het ‘n werklik merkwaardige en dierbare dame verloor… jou teenwoordigheid sal diep gemis word deur almal wat die voorreg gehad het om jou te ken.”

Natalie Farelo Haratsidis het dr. Rabie in ‘n boodskap op Facebook beskryf as “die Duracell-hasie van Midvaal, altyd vol energie en vriendelikheid! Haar nalatenskap sal ons almal bly inspireer.”

Ronel Opperman het hierdie gevoelens beaam: “So ‘n groot verlies, haar nalatenskap sal voortleef. Mag haar dierbare siel in ewige vrede rus. Haar familie, kollegas en vriende is in ons gedagtes en gebede gedurende hierdie uiters hartseer en moeilike tyd.”

Dr. Rabie laat ‘n blywende impak op die gemeenskap wat sy so onbaatsugtig bedien het.

Sy word oorleef deur haar man Dr. Francois Malan, kinders Francois (49) en Laetitia (51), en hul gades, Annèl en Ian, en haar kleinkinders Stephan (14) en Bella (10).

‘n Gedenkdiens vir dr. Rabie sal op 5 Maart by die NG Kerk Drie Riviere-Oos gehou word en regstreeks vanaf 11:00 op die kerk webblad uitgesaai word.

Dr. Jeanne-Marie Rabie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button