VANDERBIJLPARK – Alle oë en ore gaan vandag op die eerste rugbyspanne van die HS Transvalia en Vereeniging Rugbyklub (VRK) gerig en gespit wees.
Transvalia en Waterkloof kom in die Jakarandastad in ‘n stryd om oorlewing in die NDC Noordvaalbeker teen mekaar te staan, terwyl VRK op sy tuisveld vir NWU Vaal in die halfeindronde van die Valke se Peregrine-liga aandurf. Die manne van Vereeniging het die studente reeds twee keer die seisoen geklop (62-28 en 49-29) en sal moet waak teen oorgerustheid.
VRK het die seisoen sover 9 van sy tien wedstryde gewen en spog met ‘n 65.2 punte per wedstryd. Een van die span se groot staarmakers en voorste puntevraat Brandon Hewitt het 229 punte van sy span se 652 aangeteken. Dit sluit onder meet vyf drieë, 84 doelskoppe en 12 strafdoele in. Die span se voorste deurdrukkers is: Wian Koekemoer (16), Thabo Tau (15), Attie Janse van Vuuren (14), Wayne Weyers (11) en Sweef Potgieter (10).

Tau en Hewitt het die seisoen as skakelpaar geskitter. Hulle het skitterend agter ‘n wen-agttal vertoon en behoort more weer die spil wees waarom alles draai. NWU vaal het egter algaande die seisoen beter begin speel en sy fisiekheid in hul laaste ontmoeting met VRK was indrukwekkend.
Wat die Noordvaal-kompetisie betref is die HS Transvalia wees op die wenpad nadat hy Nelspruit verlede naweek met ‘n enkele punt geklop het. Slegs twee punte skei Valia en die Klofies. Dit is die Ligbloues se eerste seisoen in die beker-afdeling en die span staan steeds ‘n kans om die halfeindronde te haal.
Verloor die Blou Tornados van Pretoria die kragmeting kan hulle moontlike relegasie na die Plaatafdeling in die gesit staar. Valia en Klofies beklee tans onderskeidelik die agste en negende plek op die punteleer. Die verskil tussen Waterkloof en EG Jasen wat vyfde le se algehele punteverskil is slegs ses ligapunte. Dit beteken in ‘n neutedop dat vyf skole steeds in die spervuur is om gerelegeer te kan word. Alles is op ‘n mespunt gebalanseer. Waterkloof het die twee spanne se vorige kragmeting met 30-25 gewen, maar sedertdien het daar baie water in die see geloop.
