‘n Verrassingspartytjie vir Herfsoord, Siësta, Die Eike bestuurder
Bejaardes bederf met kolwyntjies op bestuurder se verjaarsdag.
VANDERBIJLPARK – Dis baie moeilik om vir die hoofbestuurder van enige plek iets weg te steek. Vra maar die inwoners en personeel van Herfsoord, Siësta en Die Eike oord vir bejaardes.

Die week het hul saggies om bestuurder, Charlene Aucamp se kantoor gestap, planne beraam en weer planne beraam. Charlene verjaar 2 September en almal wou haar verjaarsdag spesiaal maak.
Natuurlik het sy snuf in die neus gekry, maar het gesorg dat sy nie te veel detail weet nie. Sy was steeds verras met alles wat die personeel vermag het, vandat hul haar Maandag vroeg huis toe gestuur het, totdat sy Dinsdagoggend die oordgronde betree het.
Die eerste ballonne was al by die parkering vasgemaak. In haar kantoor kon sy skaars beweeg tussen al die wit en silwer ballonne op die vloere met nog geskenke op haar tafel ook.
Teen 10:00 het oord inwoners vanuit alle rigtings hul weg na Die Eike eetsaal gevind. Ook hier was daar versiering-feetjies oornag aan die werk.
Oral was daar balonne en in die middel van die saal het die tafel gepryk met tuisgebakte kolwyntjies, pragtig versier met pers en wit versiersuiker.
Op die verhoog het twee tafels gekreun onder al die geskenke. Dis duidelik dat Charlene in die ongeveer vier jaar wat sy nou deel van die oord se lief en leed is, in baie harte gekruip het.

Charlene se glimlag het net al hoe breër geword toe sy al die mooi versierings sien en al die ooms en tantes netjies uitgevat vir die geleentheid.
Sy het sommer self ingespring en met skinkborde vol kolwyntjies seker gemaak elkeen kry een.
“Ek is vandag 21 x 2,” het sy geterg toe ‘n oom na haar ouderdomm vra. Sy het na die verrigtinge ook ‘n draai by die inwoners van Siësta gaan maak.
