Entertainment

Gholfambisie brand in Wicus

Hou die jong speler gerus dop hy is bestem vir groot dinge

VANDERBIJLPARK – Droom groot, werk hard en enigiets is binne jou bereik. Met hierdie ingestelheid het die 17-jarige Wicus Brand die gholfwêreld aan sy voete.

Die graad 11-leerling aan die Hoërskool Driehoek, wat ook Heron Banks Gholfklub verteenwoordig, het onlangs gewys hy is bestem vir groter dinge toe hy derde by die SA Skole Gholftoernooi geëindig het.

’n Prestasie wat nie net sy talent beklemtoon nie, maar ook sy vasberadenheid en toewyding aan die sport. Wicus se liefde vir gholf het op 11-jarige ouderdom begin.

“Ons bly langs ’n gholfbaan, en dit het my nog altyd geïnteresseer,” vertel hy met ’n glimlag. Sedertdien het die stokperdjie in ’n passie en uiteindelik in ’n loopbaanaspirasie verander. Onder die leiding en toesig van ervare afrigters het Wicus sy vaardighede en vernuf verfyn en verskerp.

Ná vyf jaar se afrigting deur Fanie Roos is hy onlangs verwys na Nicole van Pletsen by Serengeti, waar hy verder aan sy tegniek slyp.

“Fanie het my nie net oor gholf geleer nie, maar ook oor hoe om as persoon te groei,” sê Wicus met dankbaarheid. Wicus se oefenroetine klink miskien eenvoudig, maar dis ’n toonbeeld van dissipline en opoffering.

Ná skool spandeer hy ure op die baan, gefokus op klein verbeterings en verstellings. “Ek probeer elke dag net 1% verbeter,” verduidelik hy.

Hierdie ingesteldheid het hom gehelp om sy beste te gee tydens die SA Skole Kampioenskap, waar hy ondanks siekte en uitputting deurgedruk het. “Daar was tye wat ek wou onttrek.

Ek is baie bly ek het nie,” erken hy. Sy harde werk is beloon met twee arende op die tweede dag van die toernooi. ’n Hoogtepunt wat sy selfvertroue ’n groot hupstoot gegee het. Nou wag nóg ’n groot uitdaging: Wicus is gekies vir die Vrystaatspan wat in Desember in Polokwane gaan meeding.

“Dit beteken baie vir my, want dit gee my nog ’n kans om myself teen die land se beste te bewys,” sê hy trots. Vir Wicus is gholf egter meer as net ’n spel… Dit is ’n lewenswyse.

Sy leuse, geïnspireer deur die legendariese Gary Player, is eenvoudig: “The more you practice, the luckier you get.” Hy glo dat sukses nie uit geluk gebore word nie, maar uit aanhoudende harde werk.

Wanneer hy nie sy swaai oefen nie, ontleed hy sy statistieke en beplan hoe om nog beter te word. Sy familie, vriende en meisie staan bankvas agter hom, iets waarvoor hy diep dankbaar is.

Met sy visier ingestel op sy toekomsplanne droom Wicus daaroor om oor 10 jaar op die DP World Tour te speel.

Sy rolmodel, Tommy Fleetwood, inspireer hom. “Hy gee nooit op nie, maak nie saak hoe hy gespeel het nie,” vertel Wicus. Vir jong spelers wat ook groot drome koester, is sy advies eenvoudig.

“Werk baie hard en moet nooit opgee nie, want niks kom maklik nie.” So as jy hom op die baan sien is Wicus Brand nie net besig om balle te slaan nie… hy is besig om sy toekoms te bou, een hou op ‘n slag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button